Meisies-hokkieharte klop sterk
- Helene Triegaardt
- Jul 22, 2017
- 2 min read
Die Helpie-hokkie-bokkies het ‘ n opwindende seisoen agter die rug. In meeste van die wedstryde het die tellings deurgaans ‘ n groot verbetering getoon, en Helpmekaar kon ook met nie minder nie as vyf provinsiale spelers spog!
Dezi Maritz, Robyn Knowles en Anika de la Rey is in die o.14 Suid-Gautenghokkiespan opgeneem, en Joné van Niekerk en Keagan Atkins in die o.18-span.
Die o.14-span, afgerig deur Juf. Clare, het net een wedstryd die hele jaar verloor, én gelykop gespeel teen St. Mary’ s wat algeheel tweede in die land gelys is. Die o.15-span met Juf. Richelle aan die stuur kon ook daarin slaag om dié gedugte teenstanders te klop.
Die seniors het ook baie goed gevaar, en diegene wat vir die laaste keer in hul hoërskoolloopbaan hul stoksakke gepak het, het baie staaltjies om te vertel. Soos die tweedespan wat op Saterdag, 27 Mei teen Kingsmead College gespeel het.
Die Helpies het 2-0 verloor, maar hou vol dat dít hulle beste en lekkerste wedstryd nog was. Ses minute nadat die beginfluitjie geblaas is, was die opponente in Helpies se sirkel, gereed om ‘ n doel aan te teken. Maar min het hulle geweet dat hulle eers verby die formidabele Milandie Viljoen moes kom.
“Die kleinste meisie het haar stok om my enkel gehaak en my voete onder my uitgeruk, en my laat tuimel soos ‘ n tweerand-muntstuk. My asem was weg, en toe ek my oë oopmaak, was ek op my rug, en die groot reus, meneer Hennes de Wet, oor my gebuk. Ek het gedink ek is dalk hemel toe,” vertel Viljoen.
Nietemin het sy die doel gekeer, en is daar ‘ n vryhou toegeken aan Helpmekaar. In die tweede helfte van die wedstryd het Cherié Pretorius en Lejani Labuschagne per ongeluk in mekaar vasgehardloop. Cherié vertel: “Ek het plat op my maag geval en het nou ‘ n lelike “astro burn”.” Hierdie mini-botsing was vir albei spelers egter meer snaaks as wat dit seer was en het ‘ n bietjie komiese verligting vir die res van die span gebring.
Volgens die span is hulle uitstekende spangees te danke aan hul afrigter, juffrou Cindy Marais, wat ‘ n hart het vir haar spelers en vir hokkie.

Comments