Koffie Kraai Koning
- Marié Mouton
- Jul 22, 2017
- 2 min read
Op die besige strate van Braamfontein, reg op Helpmekaar Kollege se voorstoep, vind jy drie van Johannesburg se mees karaktervolle koffiewinkels. By Father Coffee, Double Shot en Love Food kan jy voor skool of oor naweke van ons land se beste koffie kom geniet.
Die kenners sê ‘n goeie koffie moet soos donker sjokolade proe - nooit te bitter nie, sag op jou smaaksintuie en met ‘n pragtige, ryk en egalige bruin kleur. So ‘n spesiale koppie koffie is vir tussen R15 en R22 te koop by Father Coffee en Double Shot op die hoeke van Melle- en Jutastraat, minder as een kilometer van die skool af.
Braamfontein se strate is landswyd bekend vir sy “hipster” atmosfeer en ook vir sy topgehalte koffiewinkels. Die moderne houtmeubels en ‘n koel barista met ‘n baie lang en welige baard dra by tot Father Coffee se ontspanne atmosfeer. Father Coffee verkoop nie net van die beste cappuccinos in Suid-Afrika nie, maar ook sakkies ingevoerde koffiebone. Double Shot het weer ‘n opwindender atmosfeer met lewendige musiek, innoverende baristas wat altyd ‘n geselsie wil aanknoop en ‘n indrukwekkende masjien wat die vars bone reg voor jou rooster.
‘n Verborge juweel baie naby aan Helpmekaar Kollege is Love Food. Die klein kafeetjie is weeksdae oop vanaf 6.30 vm en geleë in Ameshoffstraat, skaars 300 meter van die skool af. Dit is die perfekte plek vir ‘n vroegoggend ontbyt en ‘n fantastiese koppie koffie voor skool. Hul vriendelike en verwelkomende atmosfeer sal jou vinnig in ‘n goeie bui kry voordat jy die lang skooldag aanpak.
As jy nie omgee om bietjie verder as Braamfontein te reis vir goeie koffie nie, kan jy gerus ‘n draai maak by 44 Stanley se Bean There Coffee Company. Hierdie weggesteekte koffiewinkel het ‘n rustige atmosfeer waar jy met ‘n koppie Keniaanse Arabica koffie in die hand en volksmusiek in die agtergrond kan opvang met huiswerk en skooltake.
Die koffieliefhebbers van Helpmekaar Kollege is voorwaar bevoorreg. Die strate rondom ons skool spog met fantastiese koffiewinkels en elkeen met sy eie karakter en unieke koffie. Gelukkig is die dae van “kitskoffie of niks” finaal getel.

Comments