top of page

Is ons lewens net 'n sepie?

  • Aleida de Bruyn
  • Jul 27, 2017
  • 2 min read

Helpmekaar se eie sepie: Casa Konig. Foto geneem deur Heike Edeling.

Kyk Helpies nog sepies? Het Helpies tyd om die langtermyn verbintenis te maak om 'n sepie dag-na-dag te volg?

Die eerste sepie was 'n radiodrama getitel "Painted Dreams" wat in 1930 in Chicago op die lug was, so skryf Emma Thelwell (op die webwerf www.channel24.co.za op 22 Augustus 2014). Die naam "sepie" is te dankie aan seepvervaardigers soos Palmolive wat dié radiodramas geborg het.

Sepies is verreweg die mees gewilde televisie-kykstof in Suid-Afrika met ongeveer 2 miljoen kykers per dag. Sportkanale trek ongeveer 170 000 kykers per dag. Suid-Afrika is in Desember 2012 deur die BBC Afrika-korrespondent, Andrew Harding, vergelyk met 'n Meksikaanse sepie: vol drama; herhalende intrige; rugstekery; tragedies en reddingspogings.Die hele Gupta-sage in Suid-Afrika is sekerlik 'n sepievervaardiger se droom intrige.

'n Week in Helpmekaar met 3 klastoetse; 2 termyntoetse; 2 take; 'n toespraak; 'n skaak-; netbal-; muurbal- of rugbyligawedstryd, daaglikse huiswerk in elke vak en dan nog vriendskapsintriges; busavonture en liefdesdramas is 'n sepiedraaiboek wat wag. Vra gerus enige matriekonnie of matriekleerling: 'n dag in "Casa König" ('n gepaste titel vir 'n Helpie-sepie of dalk meer streeksgebonde "Die Wesranders" of "Kempton Kronieke") laat Binnelanders soos 'n sprokie lyk.

Dis een ding om 'n reeks te kyk wat na 15 episodes klaar is vir 'n jaar; maar beslis 'n perd van 'n ander kleur om 5 dae per week die wel en weë te volg van 'n kitsgesin met kitsvriende binne 'n kitsgemeenskap. 'n Meningsopname onder Helpies het die volgende resultate opgelewer: 181 Helpies kyk "Binnelanders"; 161 "Getroud met Rugby" en 102 kyk "7de Laan". Dit is 444 Helpies wat tyd het om sepies te kyk. Of eerder; 444 Helpies wat die ontvlugting nodig het.

Sepies gebruik die mens se inherente behoefte om met die karakters te identifiseer om die kykers in te trek. Die kykers word deel van hulle alledaagse lewens; identifiseer makliker met aantreklike of eerlike karakters; deel in hulle hartseer en vreugde; kies kant en kry sommer 'n sedepreek as 'n bonus. Aktuele probleme soos alkoholisme en mishandeling en die gevolge daarvan word ook in die sepies uitgebeeld en aangespreek.

Nie net mense met baie tyd op hande kyk sepies nie; amper die helfte van Helpmekaar knyp 'n halfuur per dag af om te ontvlug voor hulle hul eie draaiboek begin leer om hul rol te speel in hul eie daaglikse sepie; 7 dae per week; by die skool; by die huis; op die sportveld of bus en by kuiers. 'n Dag in die lewe van 'n karakter in "Casa König"... daarmee kan elke Helpie identifiseer!


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page