Hoeveel bench jý?
- Shane Lottriet
- Jul 22, 2017
- 2 min read
By Helpmekaar is die kans dat jy aan ‘n sportsoort deelneem baie groot, en vir die meeste is dit belangrik om te presteer. Een ding wat suksesvolle sportsterre almal gemeen het, is kondisionering. En dit is hiér waar die skool se eie kondisioneringsentrum ‘n deurslaggewende rol speel.
Daar word aanvaar dat Helpies oor die algemeen ‘n gebrek aan tyd het weens hul veeleisende skedules en uitdagende bustye, en volgens Tiaan Botes, o.16-rugbyspeler en fiksheidsentoesias, help die kondisioneringsentrum hom om sy kondisionerings- en akademiese verpligtinge suksesvol na te kom.
Die skool se koshuisleerders is ook almal afhanklik van die gebruik van die skool se kondisioneringsentrum. Ver van die huis en in die middel van Johannesburg is dit moeilik om ‘n gereelde oefenprogram vol te hou met net ‘n Virgin Active-lidmaatskap. Al hoe meer koshuisleerders maak gebruik van die kondisioneringsentrum. “Dis nie maklik om in Vanderbijlpark te bly en in Johannesburg skool te gaan en ook sterk te probeer bly vir die rugbyseisoen nie. Maar gelukkig is daar ‘n gim 50 meter van my kamer af, so dit help baie,”sê Brink Marx, graad 10-koshuisleerder.
Die skool is gedurig besig om verbeteringe aan te bring om die funksionaliteit en algemene indruk van die sentrum te verbeter, maar as gevolg van ‘n spasie- en uitlegprobleem is dit soms moeilik om al die drome te verwesenlik.
“Spasie en uitleg van die sentrum bied vir ons ‘n unieke uitdaging, wat beteken ons moet kreatief dink om die sentrum en die buite-area optimaal te gebruik,” sê mnr. Dietlov Coetzee, koördineerder van die kondisioneringsentrum.
Daar word beoog om die volgende toerusting aan te skaf: ‘n Helling-trapmeul, elastiese rekke, Sport Science Lab-toerusting (Pukke sportinstituut en die Blou Bulle gebruik tans dié toerusting) en ‘n dubbele-kabelmasjien.
Alle Helpies word uitgenooi om gebruik te maak van dié spogfasiliteite. En al is sport nie hoog op jou prioriteitslys nie, is dit altyd goed om te probeer om die winterrolletjies weg te hou.
コメント