top of page

Hier studeer, daar studeer, waar studeer?

  • Marco van Staden
  • Jul 22, 2017
  • 2 min read

Harvard-Universiteit het op 31 Mei vanjaar ‘n kantoor vir die Sentrum van Afrika-studies (CAS) in Johannesburg geopen. Volgens Obenewa Amponsah, uitvoerende hoof van CAS se Afrika-kantoor het hierdie stap ten doel om navorsing in Afrika te bevorder én om voornemende studente vir Harvard te werf.

Kenners is dit eens dat Suid-Afrikaanse studente meer belangstelling toon in internasionale studies omdat die behoefte aan gehalte onderrig en internasionale kwalifikasies toeneem. Baie studente glo egter ‘n oorsese kwalifikasie is buite bereik en dat dit ‘n ingewikkelde proses is om by oorsese universiteite aansoek te doen. Hulle is ook nie bewus van die vele geleenthede wat buitelandse instellings kan bied, so sê Liza Manoussis, besturende direkteur van Global Education.

Die grootste struikelblokke vir Suid-Afrikaanse-studente wat oorsee wil studeer, is, volgens Manoussis, befondsing vir hul studies en ‘n gebrek aan kennis oor beskikbare kursusse. Natuurlik gaan die koste om oorsee te studeer en die duur lewenskoste ‘n aansienlik duik in enige bankbalans maak, en dít moet ook in berekening gebring word.

Om die eerstejaar van ‘n BCom Ekonomie-kursus aan die Universiteit van Pretoria te voltooi sal jou ouers R40 000 uit die sak jaag, terwyl dieselfde kursus ‘n internasionale student byna R330 000 uit die sak sal jaag by die Universiteit van Wes-Australië. Daar is verskeie borgskappe en afslag wat ‘n internasionale student kan kry en studente bevind hulself in ‘n globale milieu.

Studente maak die aanname dat oorsese universiteite se toelatingsvereistes buite bereik is. Internasionale universiteite bied egter verskeie oorbruggingskursusse aan en Liza glo dat hierdie kursusse baie leerders in staat stel om wel by internasionale universiteite aan te sluit. Oorsese universiteite het ook geen toelatingseksamens nie. Baie Suid-Afrikaanse studente gaan doen hul nagraadse studies by oorsese universiteite, maar dit vereis ‘n gemiddeld van 65% en hoër wat regdeur hul voorgraadse studies gehandhaaf moet word.

Daar is beslis verhoogde belangstelling van Suid-Afrikaanse studente in oorsese universiteite en vir baie studente word dit ‘n realiteit.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page