top of page

DIS HOE ONS ROL

  • Jacques Peacock
  • Jul 22, 2017
  • 1 min read

Vir ‘n laaste keer kan ek ‘n welbekende Jack Parow-liedjie aanhaal. Minder as ‘n jaar gelede het ons begin beplan aan die November 2016-uitgawe en die proses was vir my moeilik. Die koerantwese gee kophou ‘n ander betekenis en in die skoolkonteks (waar alles tussen die vier mure van die Bruin Reus vasgevang word) is nuus, opinies en prestasies intensiewer as “daar buite.”

Hoe op dees aarde oorleef ‘n mens dié proses sonder om iewers in ‘n inkspatsel op ‘n stuk gryspapier vasgevang te word? Gou sou ek my eie resep moes uitwerk en aan die kook begin kom. Ter nabetragting besef ek dat Helpmekaar éintlik die proses self kataliseer. Die vier mure van die redaksiekantoor sou my leer van saamwerk en kommunikasie. Só vang mens die oomblikke suksesvol vas waardeur nou honderde vingers blaai.

Die mid-jaar-uitgawe van die Helpie-Flitse is ‘n warboel van idees en goeie joernalistiek, alles uit óns hande. Jy maak die nuus en ek skryf dit. Hierdie verhouding werk vir my goed. Van die “vegans” wat die bul by die horings pak as dit by eetgewoontes kom tot die Odéon wat jou in prag en praal met modernisme verwelkom in Mellestraat. Veelsydige nuus vir almal, op sy beste.

Tans is die Flitse-masjien geolie en ons rol koerante by die duisende by die drukkers uit. Dit skep ‘n gevoel van trots... Alles wel te danke aan julle, die nuusmakers.

Hierdie koerant het my laat besef dat jy jou drome kán uitleef terwyl jy beleef hoe die volgende generasie syne ontdek.

Weet net een ding: Helpmekaar slaap nie. Hy skep.

Mooi wense!


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page