top of page

Aleida de Bruyn gesels met...Werner Kok

  • Aleida de Bruyn
  • Jul 22, 2017
  • 2 min read

“Droom groot en hou aan werk”

Watter sportspan laat Suid-Afrikaners se harte swel van trots? Die Blitsbokke natuurlik!

Die SA Sewes-rugbyspan het die 2016-2017 Wêreld-Sewes-Reeks (“HSBC Sevens World Series”) oortuigend met ‘ n allemintige 192 punte gewen. Engeland was tweede met 164 punte en Fiji derde met 150. Die Blitsbokke het 5 uit die 8 finale gewen.

Werner Kok het in 2013 by die Londen Sewestoernooi sy buiging as Blitsbok gemaak en teen April vanjaar het hy al 26 keer die Boktrui oor sy kop getrek en 305 punte aangeteken. Ek dink nie daar is ‘ n Helpie-rugbyspeler of -toeskouer wat nie ‘ n aanhanger van hom is nie. Die vraag op almal se lippe met wie ek oor Werner Kok gepraat het, is hoe ongelooflik fiks hy is, en die feit dat niemand hom nog ooit in ‘ n sewes wedstryd moeg gesien het nie. Werner se antwoord hierop is dat hulle span baie fiksheidsoefening doen, maar dat hy ook op sy eie ekstra werk moet insit om bo die fiksheidsvlak van gewone mense te bly. Hy meen dat ‘ n mens net só baie kan hardloop om topfiks te bly, maar jou kop moet reg wees sodat jy nooit ophou werk en oefen nie.

Hy het aan die Hoërskool Nelspruit matrikuleer en sy gunstelingvakke was Geografie en Biologie. Hy het reeds op laerskool begin rugby speel, maar eers op o/16- vlak met sewes begin. Rugby was nog altyd sy gunsteling sport, maar hy het ook krieket gespeel en aan atletiek deelgeneem. Hy meen dat sy groot liefde in rugby by verdediging lê en dat hy dit “love om te tackle”. Hy het in die 2016/2017 reeks die vierde meeste “tackles” gemaak: 145.

Werner het op hoërskool gesorg dat hy sport en akademie balanseer en hard aan sy akademie gewerk omdat mens nooit verseker weet of jy dit gaan maak as professionele sportman nie.

Hy was in 2015 bekroon as die “Wêreld Sewesspeler van die Jaar”. Nieteenstaande sy ongelooflike prestasies en sukses, kom Werner baie nederig oor op die rugbyveld en tydens onderhoude, en ek wou weet hoe ‘ n mens se voete so stewig op die aarde bly? Sy antwoord was: “My Pa het altyd vir my gesê dat jy vriendelik moet wees met die mense as jy goed doen, want jy gaan daardie mense nodig hê as jy begin sleg doen. En ons span herinner mekaar heeltyd daaraan om altyd nederig te bly.

”Volgens hierdie blonde reus is daar nie tyd is om te tob oor wedstryde wat die Blitsbokke verloor nie; hulle moet gou aanbeweeg en fokus op die volgende wedstryd of reeks wat wag. Sy persoonlike hoogtepunt van sy sewesloopbaan is die afgelope Wêreldreeks wat die Blitsbokke gewen het.

Watter raad het Werner vir die Helpie-rugbyspelers? “As jy ’ n droom het, moet jy nooit opgee op jou droom nie. As jy nie bang is vir jou drome nie, droom jy te laag. Moet nooit ophou werk nie.”


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page