Kaakbreker Big Mouth
- Marié Mouton
- Oct 22, 2018
- 1 min read

In die lewendige atmosfeer van Nelson Mandela Square, in die hart van Sandton City, is ‘n moderne weergawe van die klassieke diner, The Big Mouth. Die naam is van toepassing op wat jy benodig om hierdie kosse met kulinêre invloede en bestanddele van regoor die wêreld te waardeer.

The Big Mouth, met ‘n harmonieuse mengsel van meubels en dekor, skep die perfekte omgewing vir ‘n naweekmiddagete. Die swart staal winkelfronte, wit marmer sushi-bar, potblou sitplekke en koperaksente op die skaakmatvloer, dra by tot die moderne diner wat uitloop op die beroemde plein. Op ‘n warm Sondagmiddag gaan hierdie oop vertrek gepaard met die opwindende atmosfeer van Nelson Mandela Square, waar ‘n Afrika-orkes in die agtergrond baljaar terwyl die verskeidenheid kossoorte geniet word.
Hierdie restaurant is nie net geleë in die middelpunt van Johannesburg nie, maar sy spyskaart bied ook die middelpunt van wêreldwye smake. Die spyskaart varieer van vars gebraaide seekos tot gourmet burgers sowel as ‘n verskeidenheid wêreldklas sushi-geregte. Die interessante kreefrol gevul met garnaal en gerookte paprika, sowel as die geurige mosselpot met sy smaakvolle sousie, is beslis disse om te probeer. Die sushi opsies is ‘n groot treffer en die S.U.V. is veral ‘n gewilde keuse.
Maak jou ‘big mouth’ (en ‘big’ beursie) gereed wanneer jy ‘n uitspattige ete vol wêreldklas disse by The Big Mouth aanpak.
Commentaires