Witwarm Winterreuse
- Aleida de Bruyn
- Jul 30, 2018
- 2 min read
Op 28 Junie is die SA Netbalskolespanne aangekondig na afloop van die SASN All Ages Netbalkampioenskap in Boksburg. Doelverdediger, Nicolette Bezuidenhout (graad 11), is nie net in die Suid-Afrikaanse o.17-skolespan ingesluit nie, maar is ook as die onderkaptein van die nasionale span aangewys.
“Netbal is my lewe… soos ‘n ekstra hart. Sonder dit mis ek ‘n hartklop,” sê Nicolette oor haar passie. Sy sien die geleentheid as deel van God se genade en gebruik dit om persoonlik te groei en haar lewensuitkyk te verbreed.

Juf. Linda Peacock, haar afrigter, skryf Nicolette se prestasie toe aan die feit dat sy haar emosionele intelligensie gebruik om haar verdediging te beplan en uit te voer. “As verdediger laat sy nooit toe dat `n opponent haar intimideer nie. Die mooi van Nicolette is dat sy haar intimidasie met `n sagtheid doen, wat so mooi eienskap van haar persoonlikheid is.”
Ses van ons meisies is ook gekies vir die Gauteng-provinsiale A-spanne, nl. Simoné von Belkum (o.14), Bernice Joubert en Carmen Jordaan (o.15), Nicolette Bezuidenhout (o.17) en Carla Loots (o.18). Juf. Louise Hattingh, netbalhoof, is aangewys as die Gauteng-spanbestuurder en –skeidsregter by die o.17-groep.
Ook op die rugbyveld is daar Helpies wat ons skool in provinsiale spanne verteenwoordig. Daar is vanjaar 19 spelers in die Goue Leeus-rugbyspanne ingesluit waarvan 5 spelers, nl. Quintusz Geyser, Alex Skudder, Zander du Toit, Tiaan Botes en Christiaan Bezuidenhout die Cravenweek XV-span gehaal het. Mnr. Shaun Jackson is aangewys as die Goue Leeus Cravenweek XV-afrigter vir die o.18-groep, mnr. Dietlov Coetzee as die 0.18-akademie-afrigter, en mnr. Ruan Grové die 0.18-kondisioneringsafrigter.
Volgens Quintusz is dit ‘n baie groot voorreg om sy provinsie te verteenwoordig. “Die Cravenweek is die mikpunt vir elke skole-rugbyspeler, en dit is ‘n eer om daaraan deel te neem.” Hy voer ook aan dat dit die ideale geleentheid is om nuwe mense te leer ken en vriendskappe te bou wat vir altyd sal hou.
Vyf spelers is in die Grant Khomo o.16-span ingesluit, nl. Tyler Skudder, Sebastine Watney, Jacques Raath, Melbirt van der Spuy en Ruan Gerber.
Mnr. Blake Goosen, hokkie-organiseerder, meen dat uitstekende basiese hokkievaardighede, passie en ‘n wil om te wen vanjaar die rede is vir die groot aantal hokkiespelers wat gekies is vir die Suid-Gauteng-hokkiespanne. Teshawn de la Rey is in die o.14 A-meisiespan ingesluit, Neil Timmers in die o.14 A-seunspan en Neil Eksteen in die o.17 A-seunspan.
Rugby, hokkie en netbal se lont brand witwarm en die wenvonke spat met 490 Helpies wat elke week vir die Bruin Reus alles in die stryd werp. Die rekordaantal 33 Helpies wat hul plek in die provinsiale spanne oopgespeel het, is net die spreekwoordelike kersie op die koek.
Comments