Wiskundige Geletterdheid – vir die Wis en die onWis
- Nikolas Germishuysen
- Jul 30, 2018
- 2 min read
Die keuse tussen Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid (of Gelets soos alombekend by die Helpies), laat baie ouers behoorlik kopkrap. En geen wonder nie, want die belangrikheid van hierdie keuse kan nie genoeg benadruk word nie.
Wiskunde is ‘n voorvereiste vir alle B.Com. en B.Sc.-universiteitsgrade. Wiskundige Geletterdheid, volgens meersteronnie en Wiskunde-guru, juffrou Lorraine Janson, is ideaal vir studierigtings in die regte, joernalistiek, koswese, grafiese ontwerp, kuns, filmwese en talle ander interessante en bevredigende beroepe.
Maar wat maak Wiskundige Geletterdheid anders as Wiskunde? Leerders kry hier ‘n geleentheid om hulle kreatiewe denke te benut en die ontwikkeling van eie logika en denkpatrone te bemeester. Hulle leer byvoorbeeld om grafieke te interpreteer en berekeninge te doen oor inkomstebelasting, bankkostes, lenings, elektrisiteitsrekeninge, rente en opbrengs van polisse. Geletterdheid is dus gefokus op die praktiese toepassing van Wiskunde in ons dag-tot-dag lewe.
Ongelukkig kleef daar dikwels ’n stigma aan Wiskundige Geletterdheid. ‘n Opskudding is verlede jaar veroorsaak deur Professor Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, toe hy beweer het dat “ Wiskundige Geletterdheid ‘n euwel is en bedoel is vir onderwysers wat te lui is om vir leerders Wiskunde te leer.” Hierdie stelling word beaam deur ‘n verslag wat in 2008 deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming opgestel is. Hiervolgens kan enige leerder wat bo 72% vir Wiskundige Geletterdheid behaal, Wiskunde met gemak slaag.

Hoe dit ookal sy, Wiskundige Geletterdheid het beslis ‘n plek in die FET-sillabus. Volgens Juffrou Lorraine kan baie kinders nie wag vir graad 10 om Wiskunde te verruil vir Geletterdheid nie, en is daar dan ‘n merkbare verbetering in hierdie leerders se selfvertroue. Daar is ook diegene wat Geletterdheid sáám met Wiskunde neem omdat hulle nie oortuig is daarvan dat hulle Wiskunde in graad 12 sal slaag nie. Volgens haar is dit nie ‘n waterdigte oplossing vir die probleem nie. Hierdie leerders woon slegs Wiskunde-lesse tydens skoolure by en moet self die Geletterdheid-sillabus onder die knie kry. Vir baie van hierdie leerders sou ‘n sterker fokus op Geletterdheid ‘n groter mate van akademiese sukses beteken het, wat outomaties ‘n gelukkiger kind tot gevolg het.
Wik en weeg tussen Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid. Één, of albei, is net reg vir jou.
Comments