top of page

Waar roei jy?

  • Eduan Beukman
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Sosialisering en ontspanning was vanjaar die hooftemas by die jaarlikse Groenklubtoer. Foto verskaf deur Heike Edeling.

Vanselfsprekend het die jaarlikse Groenklub-uitstappie weereens gesorg vir ‘n fantastiese lewenservaring. Vanaf 9 tot 16 April het ‘n groep van 54 matriekulante saam vertrek om vir vier dae op die Oranje-rivier in Namibië te roei. Met twee-twee per boot, wat saam moes vaar, was dit ‘n heerlike, tog interessante ervaring.

Só ‘n groep matriekulante sorg natuurlik vir hul eie roeipolitiek. Die belangrikste hoofstuk van hierdie ontknoping word oopgesluit met die vraag: waar roei jy? Agter in die bondel kry jy die rustiger gene wat eerder die natuurskoon geniet en saam met die stroom vloei, (ook in die lewe?). Voor het jy die meer kompeterende klomp wat daarop konsentreer om eerste aan wal te land en hul voorkeur kampposisie te geniet. Daar is geen voor- of afkeur nie en die groep het as geheel die tyd uitstekend saam benut om vir oulaas saam te kuier voor die stroom vertak.

Die hitte het egter kop uitgesteek as daar individueel gevra word: “Sit jy voor of agter?” Die agtersitters sal konstant seker maak jy weet húlle roei agter. Amper soos ‘n geheime organisasie - so half asof om agter te roei spesiale betekenis het. Die voorsitters moes leiding neem van die situasie en beheer toepas en insig toon. Die feit bly egter staan dat die agterroeiers die boot moes stuur, terwyl die voorsitter moes aandui in watter rigting.

By sommige dele was die rivier dieper en by ander vlakker, so het die gesprekke onder die sterre en die deelname van die deelnemers ook daarmee saam gewissel. Die busrit was gemaklik in ‘n uiterse deftige en gemaklike bus. Die Groenklub-gees was goed en ‘n mens kan nie anders as om hierdie ervaring vir elke liewe leerling wat net bietjie wil ontsnap van die werklikheid, aan te bevel nie.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page