Voordele van veganisme
- Marié Mouton
- Jul 30, 2018
- 2 min read
Veganisme is ‘n manier van lewe wat ten doel het om alle vorme van uitbuiting van diere vir voedsel, klere of enige ander vorm uit te sluit. Hierdie leefstyl het baie publisiteit op sosiale media en ook op Helpmekaar se skoolgronde die afgelope tyd geniet. Helpmekaar het ‘n handvol veganiste en aspirant-veganiste, maar daar is steeds ‘n groot aantal leerders wat oningelig is oor veganisme en die voordele daarvan.
Die dieet aspek, waar jy geen diereprodukte eet nie, is natuurlik die bekendste deel van veganisme, maar daar is verskeie ander aspekte waaruit die veganiste van Helpmekaar ook voordeel trek.
Hierdie dieet is heeltemal cholesterolvry wat die kans op diabetes verminder. Vleis en veral rooivleis is ongesond en dit is duidelik dat die mensdom daarsonder kan klaarkom en die gesonde veganiste en vegetariërs is ‘n sprekende voorbeeld.
Behalwe dat veganisme jou eie liggaam help, help dit beslis ook die diere.
Dieremishandeling is wêreldwyd ‘n groot problem, maar omdat die mishandeling tydens diereproduksie ‘agter die skerms’ plaasvind, is die mensdom ongeërg oor die saak. Charl du Toit, ‘n befaamde veganis in Helpmekaar Kollege, plaas gereeld videos van hierdie walglike dieremishandeling op sy Instagramblad. Hy reken dat die meerderheid mense ‘n wanopvatting het van die belangrikheid van een dier teenoor ‘n ander. “Dit is onregverdig om te besluit dat honde veilig as troeteldiere gehou mag word, terwyl ‘n bees byvoorbeeld geslag moet word vir sy vleis,” sê Charl.
Helpmekaar se veganiste beoefen hierdie leefstyl veral vir gesondheidsredes, maar hulle voel ook baie sterk oor die bewaring en goeie behandeling van die dierespesie vir die toekoms. Veganisme is inderdaad ‘n moeilike leefstyl om te handhaaf, maar veganistiese restaurante soos The Greenside Café, Conscious 108 en Leafy Greens maak dit makliker vir almal om ‘n verskil te maak.
Comments