Van der Linde van Linden
- Marié Mouton
- Jul 30, 2018
- 1 min read
Die woonbuurt Linden se nuutste toevoeging tot die rits nuwe restaurante wat die afgelope vyf jaar die lig in dié Bohemian-gemeenskap gesien het, is Van der Linde, vernoem na die stigter van Linden, Johannes van der Linde.
‘n Vervalle gebou in Vierdelaan waar ‘n drankwinkel onlangs nog die area ontsier het, is omskep in ‘n moderne ruimte met groot vensters en pragtige dekor. Van der Linde bestaan uit ‘n bakkery, ‘n kroegarea wat bekend is vir sy skemerkelkies, ‘n winkel wat wyn verkoop en ‘n indrukwekkende restaurant. Deur die groot vensters kan jy die strate dophou en in die verte Johannesburg se wolkekrabbers opmerk.
Van der Linde spog met afsonderlike spyskaarte vir ontbyt, middagete en aandete. ‘n Ontbytgunsteling is die organiese Bosveldeiers saam met spesiale lamswors voorberei met appelkooskerrie. ‘n Unieke ontbytkeuse is die Chia-poeding met kokosneutmelk, chia sade, vars vrugte en neute. Die Falafel Bowl met groen falafelballetjies, slaai en ‘n hummus-en-chilli-tamatiesalsa is ‘n goeie keuse vir middagete. Oorweeg ook die Smorgasbord met varsgebakte brood, koue vleise en kase wanneer ‘n groep vriende sommer saam iets wil geniet. Die geregte word smaakvol voorberei in ‘n oopplankombuis.
Van der Linde is gewild en die pryse redelik vir ‘n hoogaangeskrewe restaurant. Wanneer jou Wiskunde ekstraklasse of jou vriende jou volgende keer Linden toe lok, oorweeg ‘n vinnige ontbyt of ‘n langer, uitgerekte middagete hier.
Comments