top of page

Tegnologie en akademie kop in een mus

  • Gerhardt Olivier
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Oor die afgelope 10 jaar het Helpie-leerders en -personeel op akademiese terrein onskeibaar afhanklik geraak van tegnologie vir opvoedkundige en ander doeleindes via hulpmiddels soos e-skool en die internet.

Helpmekaar maak gebruik van verskeie elektroniese platforms wat verseker dat leerders elke dag met sekerheid en maksimale ingeligtheid kan aanpak. Webtuistes soos e-skool gee vir leerders toegang tot jaar- en weekbeplannings, eksamenwenke en vraestelle van vorige jare wat van kritiese belang is vir voorbereiding vir die eksamen en die beplanning van die optimale skoolweek. Verder word die hele skool se punte elektronies via ADAM opgeneem en weergegee, met die voordeel dat akademiese toestande dopgehou en verbeter kan word (al verg dìt soms 'motivering' deur ouers!).

Tegnologie kom ook in klaskamers voor in die vorm van digitale projektors en interaktiewe witborde. Leerders is veral afhanklik van tegnologie vir internet-navorsing vir take en toesprake in verskeie vakke, veral Engels en Afrikaans. “Ek moes nog nooit ‘n taak doen waar ek nie op een of ander manier van tegnologie gebruik moes maak nie, al was dit net vir die aflaai van ‘n foto,” sê Henri Barnard (Gr.10).

Die skool bied ook vakke soos Inligtingstegnologie (IT) en Rekenaartoepassings- tegnologie (CAT) wat nie geneem kan word sonder die besit van ‘n persoonlike rekenaar nie, aangesien praktiese vaardighede soos programmering tuis op rekenaars gedoen word. Alle vraestelle word opgestel deur gebruik te maak van programme soos Microsoft Word, waarna tegnologie soos afrolmasjiene en drukkers gebruik word om vraestelle te fotokopieer en te produseer.

Dit is dus duidelik dat tegnologie beslis gedeeltelik (indien nie ten volle nie) bydra tot die effektiewe funksionering van beide die Helpies en hul onnies, met die gevolg dat tegnologie elke dag gebruik word as ‘n wenresep vir optimale akademiese prestasie.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page