Stomend in “punk”
- Anja Steyn
- Jul 30, 2018
- 2 min read

Vanjaar se modeparade, met die tema “Steam Punk”, is op 18 en 19 Mei aangebied. Die modeparade is tradisioneel ‘n spoggeleentheid by Helpmekaar en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Anders as vorige jare, is hierdie jaar se modeparade nie by Helpmekaar nie, maar by die Turbine Hall in Newtown gehou.
Op die stoepe was die opgewondenheid onder die Helpies merkbaar en hulle kon nie uitgepraat raak oor dié hoogtepunt nie. Die aand is haarfyn beplan o.l.v. mev. Melanie Dirks en haar span mamma’s. Die dekor het perfek by die tema aangesluit en die gehoor is getrakteer op asemrowende toertjies van akrobate wat baie hoog aan dié ou kragstasie se dak gehang het. Die gaste is met ‘n driegang-maaltyd bedien en het ‘n “Gin-en Whiskey Bar” én “Cigar Bar” tot hul beskikking gehad.
Die modelle, bestaande uit graad elf en twaalf leerlinge, is reeds vroeg in die jaar gekies en moes lang ure se oefening insit om Juffrou Linda van Niekerk tevrede te stel. Nog graad 11-Helpies, volgens die tema geklee, het as kelners gewerk.

Die klem het hierdie jaar geval op “Trots Helpmekaar” en ons skool se eie talent is ingespan om die gaste te vermaak. Christoff Basson, Izelle Ellis en oud-Helpie, Lize-Marie Ellis (2017) het met hul sangtalent die gehoor bekoor, en mnr. Eghard Basson en nog ‘n oud-Helpie, Veronica Ramokgoname (2015), het as seremoniemeesters die gehoor laat skater.
Daar het vanjaar sewe verskillende modehuise hul ontwerpe op die loopplank ten toon gestel: Rihette, Yihan Brönn, Hobo Collection, Tailor Me, Anél Botha, Diaan Daniels, Marbella de Marieé en Ryan Keys. Die modelle het ook die loopplank met die internasionale model, Andi Swamanxiwa, gedeel.
Om só geleentheid op die planke te bring, is nie ‘n maklike taak nie, maar daar kan met sekerheid gesê word dat Helpmekaar se modeparade met die loopplanke van Milaan, Parys of New York kan kompeteer.
Comments