Skoonlief en Ondier betower weer
- Aleida de Bruyn
- Jul 30, 2018
- 2 min read

Op Woensdagaand 25 April is die 2018 Beauty en Beast-wenners aangewys in die skoolsaal. Netbalster, Carla Loots, is as 2018 se Beauty aangewys, en dirigent, Daniël Davel, is as Beast 2018 én Mnr. Fotogenies gekroon. Eerste prinses én Mej. Fotogenies is Pascale Viviers. Tweede prinses is Jana Basson en Mej. Persoonlikheid is sprankelende Tamzyn Oosthuizen. Die manne wat pryse ontvang het, was Francois Scholtz as eerste prins, Marco Claassens as tweede prins en Roelof van der Walt is Mnr. Persoonlikheid.
Vyf Graad 11-seuns en -meisies en vyf matriekseuns- en meisies is op demokratiese wyse deur die skool as finaliste gekies. Al 20 finaliste het aan die gala-aand deelgeneem en gekompeteer om die gesogte titels op te raap. Die wenners is deur onpartydige, buite beoordelaars aangewys. Die beoordeling het op grond van danspassies, klere wat by die tema pas, formele drag, persoonlikheid en beantwoording van ‘n vraag plaasgevind. Die beoordelaars was oud-Helpie en bekende akteur Arno Greeff, TV-persoonlikheid en aktrise Nadia Beukes, oud-Helpie Jaydene Jacobs, sanger en akteur Johan Anker en aktrise Yutamé Venter.
Die beoordelaars en gehoor is getrakteer op ‘n skouspel van glansuitrustings, ingewikkelde danspassies en glansryke persoonlikhede. Helpie-sangers het deurentyd die gehoor vermaak. Dit was duidelik aan die indrukwekkende toertjies, danse en verskillende uitrustings dat daar baie ure se repetisies die aand vooraf gegaan het.
Niesminuut legende, Gustav Theron, was die seremoniemeester en het die gehoor laat skater met sy skerp kwinkslae. Beauty 2017, Antoné Adlam, het die kroning behartig.
Carla Loots meen dat dit baie belangrik is om jouself te wees en nie ‘n weergawe van jouself wat jy dink ander mense van gaan hou nie. Sy het bevoorreg gevoel om deel van ‘n groep meisies te wees wat sy bewonder en te sien hoe almal se selfvertroue met elke oefening groei. Sy voel ‘n mens moet elke oomblik van hierdie geleentheid waardeer en geniet.
Daniël Davel meen dat hy baie groot geskrik het toe sy naam as Beast aangekondig is en sy gunsteling oomblikke van dié ervaring is die oefeninge en kleedrepetisie, die baie lag saam met vriende, die pret met die danse en fotosessie, die verligting toe die vraesessie verby is en natuurlik die aankondiging van die wenners.
Die tema “Wees” was ‘n raak samevatting van ‘n aksiebelaaide glansaand: Pret-wees, Sprankelend-wees, Helpie-wees!
Commentaires