Skooltake gerig op globale oplossings
- Shane Lottriet
- Jul 30, 2018
- 2 min read

Leerders in Helpmekaar word graag blootgestel aan situasies waar hulle die geleentheid kry om húlle idees en insig rakende die oplos van relevante probleme in die wêreld ten toon te stel.
Een van hierdie geleenthede is die alombekende “Eskom Expo for Young Scientists” wat op Dinsdag 3 Mei in Helpmekaar se skoolsaal plaasgevind het. Hieraan is daar ‘n verpligte deelname geheg vir alle graad 10-leerders wat Fisiese Wetenskappe neem.
Volgens Nikolas Germishuysen, deelnemer van die Expo, het hy en sy spanmaat, Reeder Vermaak, ‘n leemte gesien in die plastiekherwinningsbedryf in Suid-Afrika. Hulle fokuspunt was op hoe hulle werkskepping kan bevorder deur plastiekherwinning te vergemaklik. Hulle het toe ‘n huishoudelike plastiekreduksiesisteem gebou wat plastiek kompakteer om sodoende die spasie wat dit opvat te verminder. Hulle het uitgewerk dat hulle ongeveer 4500 kubieke sentimeter van plastiekhouers kan kompakteer in slegs 100 kubieke sentimeter – byna 98% se volumeverskil. Minder bevoorregte plastiekversamelaars in Suid-Afrika sal dus uit hierdie apparaat kan baat, omdat hulle per gewigseenheid plastiek betaal word en slegs R60-R80 betaal word vir 400 plastiekbottels wat ‘n hele dag se werk verg. “Hierdie mense kan dus met ‘n rugsak regkry wat hulle met ‘n trollie sou,” sê Nikolas.
Die Geografie-matrieks was ook hard aan die werk met take van hul eie. Hulle moes navorsing doen oor enige onderwerp in die Geografie-sillabus vir matriek en dan ‘n probleem identifiseer wat opgelos kan word. Aleida de Bruyn meen dat die grootste probleem in die wêreld tans voedselsekerheid is. Sy het toe besluit om ‘n manier te ontwerp wat dit maklik en toeganklik maak vir mense, veral dié in plakkerskampe, om gewasse te groei en hul voedselsekerheid vermeerder. Sy meen hoe meer mense hulself en hul gemeenskap kan onderhou, hoe beter sal dit wees vir die land en ekonomie. Sy het ou motorbande gebruik en onderaan swartsakke met gaatjies vasgemaak vir waterdreinering. Daarna het sy grond in die bande gesit en mure van hernubare materiale (soos CD-kassies, plastiekbottels en ‘n skadunet van ‘n lemoensak) daarop gebou wat op hulle beurt weer die omgewing skoon sal hou indien hierdie materiale gebruik word. Die gewasse wat sy geplant het in hierdie drie kweekhuise het baie mooi gegroei wat dus die funksionaliteit van haar taak bevestig het.
Die IEB-sisteem lê baie klem op probleemoplossingsvaardighede en is dus ‘n broeiplek vir innoverende idees wat relevant is in die wêreld. “Dis al hierdie klein idees wat ons het op skool wat die verskil maak in die wêreld en ek dink mens moet nie onderskat hoe belangrik hierdie take kan wees nie,” sê Aleida.
Comments