Manjifieke Lirieke
- Heike Edeling
- Jul 30, 2018
- 1 min read
Netflix se gewilde reeks, 13 Reasons Why, se tweede seisoen is op Vrydag 18 Mei aan ‘n gretige wêreldgehoor bekendgestel. So ook is daar 'n amptelike klankbaan, wat liedjies van die bekende Selena Gomez, Khalid en One Republic insluit, vir hierdie reeks saamgestel.
Nie net laat die welbekende reeks elke kyker stom nie, maar dié aangrypende album skilder 'n splinternuwe storie oor Hannah Baker, die hoofkarakter in die reeks, se wanhopige lewenstryd. Luisteraars kan 'n verskeidenheid rustige musiekgenres verwag, aangesien die album se melancholiese atmosfeer baie fyn by die reeks se triestige storielyn aansluit. Alhoewel die album effens langdradig mag voorkom, plant die liedjies 'n saadjie van besonderse diep denke by elke luisteraar - wat dikwels nodig is om te ontsnap van daaglikse sekulariteit.

Selena Gomez, vervaardiger van die 13 Reasons Why-reeks, se nuutste treffer "Back to You" verskyn ook op die klanklys. Gomez noem dat sy wil hê die liedjie 'n prettige ondertoon moet hê, aangesien die reeks ons daarteen waarsku om nie toe te laat dat komplekse gevoelens te oorweldigend raak nie. Die liedjie herinner ook sy gehoor dat 'n mens nooit alleen is nie en dat daar altyd iemand sal wees wat persoonlike kwessies gaan verstaan en dit ook saam met jou sal oplos.
Min kritiek kan oor die album uitgespreek word, veral omdat daar ‘n tonale verskeidenheid aangebied word. Dus kan die album vir alle luisteraars en aanhangers van die Netflix-reeks, 13 Reasons Why, sterk aanbeveel word, ten einde dit saam met die kyk van die verfilmde verhaal te geniet.
Comments