top of page

Kunstige kreatiwiteit by kultuuraand

  • Marié Mouton
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Op Dinsdagaand 5 Junie het hierdie termyn se Helpmekaar-kultuuraand plaasgevind. Elke sintuig van die bevoorregte gehoor is geprikkel. In ons skool se voorportaal het die kunsstudente, wat aan die werk was aan hul nuutste skilderye, al ‘n voorsmakie gegee van die spesiale aand wat binne sou wag. In die saal is die gaste verwelkom deur ‘n luisterryke atmosfeer met stoele, tafels met kerse en ‘n rusbank hier en daar vir diegene wat agteroor wou sit en die kuns en kultuur rustig geniet. Die gaste het hul eie versnaperinge saamgebring en die aand in kabaretstyl beleef.

Die nuutste Helpie-kultuurtoevoeging is die sanggroep, Newe Effekte, wat die aand met hul debuutoptrede afgeskop het. Die seuns se stemme het ons meegevoer met die mooiste liedjies – veral die hemelse aanbieding van die “Baba yetu medley”.

Volgende op die program was voordragte en selfgeskrewe gedigte deur van ons talentvolle leerders, waaronder ‘n pragtige voorlesing deur Daniël Davel van sy gedig, “Antwoord op ons vrae.”. Nog hoogtepunte was die indrukwekkende uittreksels uit die bekroonde tienertoneel, “Net nóg een” en die musiekblyspel “Gesertifiseerd”. Die program het spontaan verloop en sonder enige onnodige aankondigings en onderbrekings is die gehoor vermaak deur klavier-, tjello- en sangsolo’s en ‘n monoloog deur Lyndré Kruger.

Die Helpie-meisies se eie acapella-sanggroep, die Acoustchicks, se eerste optrede het ‘n ongelooflike vertoning van die liedjie “You don’t own me” ingesluit. Ons koor het met pragtige sang gewys waarom hul goud verwerf het tydens die onlangse ATKV kompetisie.

Die finale optrede was die hoogtepunt van ‘n skouspelagtige aand. Izelle Ellis het saam met die Helpiekoor, die dansgroep en die orkes die aand afgesluit met die liedjie, “This is me”, uit die rolprent en musiekblyspel, “The Greatest Showman”. Helpmekaar se kultuuraand is ‘n spesiale vertoning wat jy nie volgende termyn moet misloop nie!


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page