Helpmekaar se eie Broadway-vertoning
- Anja Steyn
- Jul 30, 2018
- 1 min read
“GesertifiSEER”, Helpmekaar se tweede musiekblyspel wat van 3 tot 5 Mei in die Aula plaasgevind het, was weereens ‘n reuse sukses.
Hierdie jaar se musiekblyspel is geregisseer deur Elle Chapman en die musiek geskryf deur Peter McLea, Helpmekaar se eie orkesleier. Dit het gehandel oor ‘n seun, vertolk deur Rieghard van Jaarsveld, wat in ‘n psigiatriese hospitaal beland as gevolg van huishoudelike probleme en sy onvermoë om ‘in te pas“. Die musiekblyspel het bewys dat deur vergifnis alle wonde genees kan word, vandaar die titel.
Robin du Plessis, ‘n Graad 10-leerling asook een van die hoofrolle van die musiekblyspel, is van mening dat die musiekblyspel ‘n ervaring was wat baie waarde gedra het. Sy moedig alle Helpies verder aan om deel te word van die kultuuraktiwiteite in Helpmekaar, al is dit slegs om ‘n kultuuraand by te woon.

Helpmekaar se eerste musiekblyspel, “Detensie 101”, is in 2017 aangebied en daar word nou daarop voortgebou. Die oudisies vir hierdie opvoering is al vroeg in die jaar gehou om te verseker dat hierdie produksie ‘n treffer is. Daar was selfs ‘n voorsmakie vir die Helpies tydens aantree.
Hierdie musiekblyspel het verder bewys dat die juniors uiters talentvol op kultuurgebied is aangesien meer as die helfte van die rolle vertolk is deur graad agts en neges. Die musiekblyspel is reeds ‘n goed gevestigde tradisie by Helpmekaar en brei die kultuurkalender uit.
Comments