top of page

Helpie-harte klop vir die gemeenskap

  • Moné Rossouw
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Helpie Hartklop logo

“Ons as Helpies het so baie om dankbaar te wees. Dikwels kyk ons dit mis. Gemeenskapsdiens is ‘n manier om ander te help en so ook onsself te help raaksien wat óns het.”

So sê ons eie Helpie-onderwyser, juffrou Carien Wessels, wat hierdie jaar aan die stuur van die gemeenskapsdiens is. Daar is verskeie projekte waaraan leerders in Johannesburg kan deelneem. As ‘n skool pak ons 2 tot 3 projekte per termyn aan om sodoende saam ‘n verskil te maak.

Helpie-hartklop het die kosbare kleuters van Kids Haven op 19 April na 'n fantasiewêreld "onder die see" geneem. Van ons leerders het saam met die kleuters 'n kunsprojek gedoen, gespeel, stories gelees en gesing. Die bekende spreuk: "Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang," het duidelik in die Helpies se harte weerklink.

Ons is egter ook tans met ‘n groot fondsinsameling vir die Abraham Kriel-kinderhuis besig. Hiermee beoog ons om hoop te gee vir hawelose, behoeftige en kwesbare kinders. Ons wil sowat R20 000 vir hierdie instansie insamel, daarom gaan ons as skool aan die Telkom 94.7-fietswedren deelneem. Die fondsinsameling sluit op 17 November 2018.

In die vorige termyn was ons ook produktief ten opsigte van die Meals on Wheels-voedingskema. Helpies moes leë houers en bakkies uit hul tuistes wat nie meer gebruik word nie, versamel om sodoende kostes te verminder. Vir slegs R15 kan ‘n mens 3 maaltye per maand skenk en selfs help om die kos voor te berei en af te lewer vir oumense regoor Johannesburg wat nie meer in staat is na hulself om te sien nie.

Ons rugbyspanne het ook die geleentheid gekry om vir Habitat for Humanity gemeenskapswerk te doen. Hulle het vir ‘n week lank fisieke werk gaan doen en vir minderbevoorregtes huise gebou en gepleister.

Gemeenskapsdiens laat ons besef dat elkeen van ons werklik ‘n rol daarin kan speel om ‘n gesonde gemeeskap te skep. Soos juffrou Carien sê: “Liefde verander die wêreld”.

Leerders maak die harte warm van onbevoorregte weeskinders van die Kids Haven Stigting. Foto verskaf deur Carien Wessels.


コメント


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page