top of page

Gesiglig is ons plig

  • Danielle Brink
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Entropie is die degenerasie van energie en die omgewing, soos saamgevat in die tweede wet van Termodinamika. Om die natuurlike verval van dinge om te keer, is werk nodig. Sweet, ongemak en inspanning. Soos ’n gesoute, meer ervare Hollywood-aktrise poog die skool elke jaar o.l.v. meneer JP van der Merwe om die lagplooitjies van die Bruin Reus op die Bult uit te stryk met ’n jaarlikse “gesiglig”, of te wel, die alombekende Facelift-projek.

Die graad 8’s het oor die jare ’n trotse tradisie om ons skool te verbeter, gebou. Die doel is om die verval van die tyd terug te draai en vernuwing te bring.

In 2006 het die Gr 8- en 9-groep die opgradering van die badkamers by die swembad gedoen en dit ‘n plesier en trots van die skool gemaak.

In 2011 het ons ‘n lokaal ingerig as ‘n biblioteek, om veral lees in Afrikaans en Engels aan te moedig.

In 2013 samel die graad 8’s genoeg in om die Aula se stoele op te kikker.

Vir die graad 8’s van 2015 is die uitdaging gestel om ‘n bydrae te maak tot ‘n noodkragopwekker. In hierdie jaar van beurtkrag het die graad 8’s van 2015 hul doelwit binne slegs 6 weke bereik.

Die graad 8-groep van 2018 gaan die klaskamers van Helpmekaar opgradeer deur dit eenvormig uit te verf en kabels en projektors netjies te installeer. Die voorkoms van die klaskamers word gestandariseer sodat ons die beste in Helpmekaar na vore kan bring. Die span het moontlik die mees belangrike projek van almal aangepak.

Verwering van die natuurlike vind plaas ongeag hoe goed die voorwerp opgepas word. As Helpies is dit egter ons plig om te verbeter en in stand te hou, waar die behoefte raakgesien word, en die trots van die skool oor te dra na die volgende generasie. Die Facelif-projek sal dus vir altyd voortduur.


Comentarios


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page