Essensie van Hoof-wees: Hard of Hart?
- Klaus König
- Jul 30, 2018
- 2 min read

Om die hoof van 'n hoërskool soos Helpmekaar te wees, moet 'n mens hard wees. Op 'n manier. Maar nog belangriker: jy moet hart hê.
Hoof-wees is harde werk – lang ure, baie verantwoordelikheid, uitdagende kwessies wat hanteer moet word. Soms is daar moeilike besluite wat 'n mens wakker hou in die nag. Soms is daar krisisse wat mense se lewens ingrypend verander en jy moet dit help bestuur.
Ek word dalk deur party mense gesien as 'n harde hoof – streng, onversetlik, erg op dissipline, op dinge soos skooluniforms, stiptelikheid, reëls. Maar daar is 'n rede voor.
Sonder dié soort hardheid kan 'n hoërskool maklik verval in onverskilligheid, slapheid, gebrek aan orde en respek. Klasse word moeilik om te hanteer, onderwysers raak gefrustreerd, standaarde val. Die kinders wat graag in 'n ordelike omgewing wil studeer, moet op hulle tande byt omdat slapgatte, kansvatters en boelies die werksroetine ontwrig. Dáárom moet 'n hoof soms hard wees.
Maar 'n hoof moet ook hart hê. Hy moet verál hart hê.
Die waarheid is nie altyd swart of wit nie, dis grys. Mense verstaan mekaar verkeerd, planne loop skeef, irritasies ruk handuit en word lelike konflik. Dan is daar nie duidelike reg of verkeerd waaroor 'n hoof kan besluit nie. Dan is die antwoord grys.
Dan is die antwoord omgee. "Too often we underestimate the power of a touch, a smile, a kind word, a listening ear, an honest compliment, or the smallest act of caring, all of which have the potential to turn a life around," sê die onderwyskenner Leo Buscaglia.
Die essensie van hoof-wees is om te weet wanneer is "hart" belangriker as hard-wees. Om te weet wanneer troef die omgee-kaart al die ander kaarte van dissipline, reëls, planne, verantwoordelikhede. Dis 'n konstante uitdaging!
Om hart te hê is natuurlik nie net belangrik vir 'n hoof nie, dis eintlik die essensie van mens-wees. Elke mens moet homself toets: is ek hard genoeg om die drome wat ek najaag waar te maak? Maar nog belangriker: het ek genoeg hart vir die mense rondom my?
DIT is waaroor die lewe gaan.
Comments