Dromers wat doen
- Marco van Staden
- Jul 30, 2018
- 2 min read

Die Helpies was nog altyd kreatiewe probleemoplossers. Daar is Helpies wat hierdie vaardighede benut en winsgewende projekte van stapel stuur om ekstra geld te verdien. Van hout verkoop tot bruintjies bak, hierdie entrepreneurs sien kans vir enige uitdaging.
Keenan Fourie, ‘n matriekleerder, verkoop al sedert 2017 hout in Linden en omliggende gebiede. Hy getuig van die verskeie struikelblokke wat hy moes oorkom om die besigheid aan die gang te kry. “Ek het gesukkel om ‘n verskaffer in die hande te kry, want mense neem nie ‘n 17-jarige altyd ernstig op nie,” vertel Keenan. Hy het egter ‘n verskaffer in Botswana in die hande gekry en sy besigheid het gegroei tot die punt waar hy drome koester om ‘n aanlyn-subskripsiediens te stig om sy winste verder te laat groei. Keenan noem egter dat sy grootste struikelblok is om aan genoeg verskonings te dink vir onvoltooide huiswerk.
Keenan is nie al matriek-entrepreneur nie, Gibor van Zyl en Natasha Rossouw is ook twee entrepreneurs wat ‘n geleentheid gesien het en dit met albei hande aangegryp het. Natasha verskaf tuisgebakte bruintjies aan die snoepie en hierdie versnaperinge verkoop soos soetkoek. Sy gee 40 bruintjies ‘n dag aan die snoepie en noem dat haar projek grootendeels gestig is om haar matriekvakansie te finansier. Natasha verduidelik dat sy kennis wat sy opgedoen het in die Besigheidstudieklas gebruik het om haar besigheid so suksesvol te bedryf.
Gibor verkoop sedert 2016 sakrekenaars en sy produk is veral populêr onder die leerders wat Gevorderde Wiskunde neem. Gibor vertel dat hy gesien het dat daar ‘n vraag daarna is en dat hierdie sakrekenaars redelik duur is. Hy koop sy sakrekenaars in Dubai aan en meen dat hy hulle verkoop teen ‘n prys laer as markwaarde.
Wie weet, dalk kan die Helpie-entrepreneurs se besigheidsvernuf die volgende Bill Gates kweek.
Comments