Deur diep waters
- Gerhardt Olivier
- Jul 30, 2018
- 1 min read

Gedurende die April-vakansie is 31 avontuurlustige Helpies deur vier ervare personeellede na Sodwana Bay Lodge in Natal vergesel vir vanjaar se eerste duiktoer. Die opwinding was tasbaar en almal het na ‘n 9 uurlange busrit uitgesien na die geheime wat in die diep blou see op elkeen wag.
Hierdie 35 individue het óf in tente, óf in chalets tuisgegaan in die Sodwana Coral Divers-kamp. Volgens mnr Hennis was 2018 se duiktoer: ”beter as ooit georganiseer” en almal se duikopleiding kon met die intrapslag begin. Drie verskillende kursusse is op die duiktoer bemeester en het gewissel van ‘Beginner’ tot ‘Meester’ en selfs ook ‘n ‘Gevorderde’ kursus of twee.
Agt oop-water-lisensies is met lof behaal, wat talle duik-ure, deursettingsvermoë en verskeie interessante dieptes ingesluit het. ‘n Gemiddelde duik het tussen 35 minute en een uur geduur en het op verskeie dieptes plaasgevind. Elke leerder het ongeveer ses tot tien duike baasgeraak wat vir super-spangees gesorg het.
Hoogtepunte het ‘n diverse verskeidenheid van Suid-Afrika se mees ongelooflike visse en selfs ‘n Duiwelvis of te wel ‘Manta Ray’ ingesluit.
So indien jy wonder hoe jy in April jou tyd kan verwyl, kan jy gerus die oop waters saam met jou mede-Helpies kom ervaar -‘n belewenis wat op elke adrenalienverslaafde se kluit-klap-lysie hoort!
Comments