top of page

Busse: beroemd of berug

  • Marié Mouton
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Helpmekaar Kollege se leerders kom van heinde en verre. Daarom is daar ‘n bus vir byna elke gebied. Busse met name soos Vasdruk en Vasmaak en ook die twee nuutstes, Romulus en Remus, met hulle maatjie, Maximus, help om ons leerders vanaf so ver as Featherbrooke tot Kemptonpark tot Alberton veilig na die Bruin Reus op die Bult te bring.

Party van die busse vertrek so vroeg as sesuur in die oggend en swoeg tot laat in die middag op dieselfde roetes terug. Elke bus het ‘n betroubare busdrywer sowel as sy eie buskapteins. Die leerders op die bus is een groot en gelukkige familie wat elkeen ook sy of haar berugte busontgroening oorleef het. Oor die menigte busjare en duisende kilometers het elke bus natuurlik baie interessante nuus en gebeure om oor te spog. Ongelukkig is die meeste passasiers egter tjoepstil as hulle hieroor uitgevra word. Hul verwys vinnig na die bekende gesegde waarvan elke Helpie deeglik bewus is: “Wat op die bus gebeur, bly op die bus!” Daar is egter enkele brokkies nuus wat met Helpieflitse gedeel is.

Die algemeenste nuus is van dieselfde leerders wat gereeld te laat is en ouers wat dan vinnig agter die bus aanjaag om hul kinders betyds by die volgende optelpunt te kry. Die honderde tasse, bashers, pette of sportsakke wat op ons busse vergeet word, het elkeen sy eie storie daaragter. ‘n Onlangse traumatiese oomblik was toe ‘n bus per ongeluk iemand raakgery het en ‘n noodhulpspanlid tot die slagoffer se redding gekom het. Die leerders op die bus was almal geskok, maar sal die ondervinding nog vir lank onthou.

Nog ‘n onvergeetlike oomblik in Helpmekaar se roemryke busgeskiedenis was toe Knuppeldik tot ‘n glorieryke einde gekom het. Hierdie geliefde bus het op een van ons stad se besige hoofweë in ‘n vlammesee gesterf. Vasbyt het weer gesorg vir groot opwinding toe die nooduitgangvenster se glas begin kraak het tydens sy rit na afloop van die interhuis-swemgala. Die berugte Johannesburgse strate met hul slaggate en hobbels het vinnig klaargespeel met die nooduitgangvenster se glas.

Om die situasie verder te vererger, is die matrieks per ongeluk agtergelaat by die skool en moes Vasbyt halfpad op sy roete omdraai om hul te gaan haal. ‘n Onlangse brokkie skindernuus is dat ons eerste rugbyspan se bus na Nelspruit geweeg en te swaar gevind is! Die manne het hierdie as ‘n pluimpie beskou vir hul spiere wat na ure se gimansiumwerk so groot geraak het. Maar veiligheid kom altyd eerste en die bus se vrag is vinnig ligter gemaak.

Die busse van Helpmekaar word gereeld gediens en onderhou en ‘n span bekwame busdrywers maak seker elke Helpie kom in die oggend veilig en betyds by die skool en smiddae weer terug by sy of haar tuiste. So klou vas, veg vir jou sitplek, dra by tot die nuus en sien uit na die toekomstige stories van Romulus, Remus en Maximus se ervaringe.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page