Bruin Truie Virseker Bo-aan Punteleer
- Aleida de Bruyn
- Jul 30, 2018
- 1 min read
Op Saterdag 9 Junie het die Bruin Reus op die Bult vibreer van die gees tydens die Virsekerbeker-kompetisie se rugby-uitspeelwedstryde. Helpmekaar het kragte gemeet teen Hoërskool Dr E.G. Jansen en die rugby is lewendig op Kyknet gebeeldsend.
Die aanhangers is trakteer op aanskoulike hardlooprugby en die eerstespan het met 29 teen 10 geseëvier. Hanteerwerk was nie altyd na wense nie, maar die manne in bruin het voluit gespeel.
Na 5 wedstryde in die Virsekerbeker-kompetisie is ons eerstespan bo-aan die punteleer. Mnr. Johan van Wyk, afrigter van die span, skryf dit toe aan ‘n nuwe spelpatroon wat meer opsies op die aanval bied en aan die spesiale samehorigheid wat onder die spelers heers.
Mnr. Shaun Jackson, mede-afrigter, is dit eens dat die seuns se prestasie te danke is aan die feit dat hulle in mekaar glo en die Bruin Trui bo hulle eie individuele prestasies stel. “Glo in God, glo in jouself, en glo in die ou langs jou,” is sy woorde aan die span voor elke wedstryd.
Die seisoen gaan nog baie harde werk verg, maar mnr. Eugene Marais, rugbyhoof, meen dat die afrigters en spelers se gedrewenheid om te wen, nog uitsekende rugby sal oplewer.

Comments