Aleida de Bruyn gesels met… Bibi Slippers
- Aleida de Bruyn
- Jul 30, 2018
- 2 min read
Stories met stertjies deur ‘n alternatiewe pliggie

Bibi Slippers is ’n digter, joernalis, TV-aanbieder en inhoudsregisseur van Johannesburg. Sy het in 2007 BA-grade in Beeldende Kuns en Tale aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en in 2015 ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is die aanbieder van “In die bed met Bibi” op Via, ‘n boekeprogram “waarin Bibi Slippers met lesers en skrywers gesels oor die lekkerste ding op aarde: lees.” Haar debuutdigbundel is “Fotostaatmasjien” wat in November 2016 verskyn het en bekroon is met die UJ-prys, Elisabeth Eybers-prys en op die kortlys was vir die Ingrid Jonkerprys.
Sy matrikuleer aan Hoërskool Empangeni in Kwazulu-Natal. Haar gunstelingvakke op hoërskool was Kuns, Afrikaans en Engels. Sy het Frans as derde taal geneem. Sy kon nie Drama as vak neem by haar skool nie, maar het Drama buitemuurs geneem. Sy was al op skool ‘n boekwurm, maar kreatiewe skryfwerk was beperk tot opstelle en berigte vir die skoolkoerant. Sy meen dat sy ‘n goeie kombinasie van pliggie (onderhoofmeisie en akademiese prestasies), rebel (geen moeite met Wiskunde en Wetenskap nie) en alternatief (sy het ‘n stert van koei-motief met ‘n pienk strikkie skool toe gedra) was.
Op ‘n vraag oor wat sy anders sou doen op hoërskool as sy dit kon oordoen, sê sy: “Ek sou nicer met my ouers wees… Ek sou ook meer uitgereik het na mense wat sukkel om in te pas en nie uitmis op uitsonderlike mense net omdat hulle nie deel is van die “cool crowd” nie.” Sy het na matriek eers ‘n diensjaar gedoen en daarna ‘n jaar gewerk voordat sy universiteit toe is. Daarna het sy in Nieu-Zeeland radio-advertensies gaan skryf en terug in Suid-Afrika as joernalis gewerk. Matrieks kan moed hou, sy het nooit gedink sy sal ‘n TV-loopbaan volg nie! Die lewe het volgens haar ewe veel verrassings as voorspelbaarheid.
Haar liefde vir woorde was van kleins af daar. Sy meen dat elke mens die hele Harry Potter-reeks moet lees. Haar debuut-digbundel het ses jaar se bloedsweet geneem en sy moes leer om haarself vir fel kritiek oop te stel. Sy moes van die gedigte oor en oor herskryf. Sy het die eerste twee gedigte in die bundel heel laaste geskryf. Om die pot aan die kook te hou, doen sy TV-werk. Sy is ook ‘n vryskut-joernalis wat graag onderhoude met interessante mense voer. Sy is ‘n uitsteller van formaat en sal, soos ons almal, eerder slaap as werk, maar sodra sy begin skryf, is dit altyd lekker.
Sy drink nie koffie nie, maar die Helpies sal haar dalk net raakloop as sy sap drink by The Whippet, Gravity of Yield.
Comments