Woorde is pyle in die Helpie-koker
- Aleida de Bruyn
- Mar 31, 2017
- 1 min read
Die jaarlikse Toastmaster-kursus, wat vanaf 2017 as die Oratorskursus bekendstaan, het die 20ste en 21ste Januarie 35 leerders bekend gestel aan die fynere kunsies van openbare redevoering.
Juffrou Karen Stapelberg, organiseerder van die aktiwiteit, sê: “Ons wil meer fokus op leerders wat ongemaklik is om voor mense te praat”. Die kursus sluit steeds die volgende vaardighede in: die aanbieding van ‘n afgeronde toespraak; hoe om onvoorbereide toesprake te lewer; leierskap en selfvertroue. Kursusgangers leer ook hoe om opbouende kritiek te lewer en te ontvang.
Annay Barnard, wat vanjaar die kursus bygewoon het, sê: “Almal is aanvanklik ongemaklik, maar ontspan nadat ons saam gelag en -eet het. Ek het nou baie meer selfvertroue om voor mense te praat.”
Nog ‘n bonus is dat die graad 11’s en 12’s die oratorskursus as verbeteringsertifikaat kan indien vir Lewensoriëntering. Clara Pretorius, wat voorheen die kursus voltooi het, meen dat dit ‘n mens se praatvaardighede in ‘n veilige omgewing ontwikkel.
“Woorde is pyle uit die boog van die mond”, aldus Afrikaanse digter Antjie Krog in haar gedig “Duet”. Die gawe om gemaklik en vol selfvertroue te praat sodat mense wil luister en oorreed word, word danksy die gesogte Oratorskursus nog ‘n pyl in die Helpie-koker!
Comments