Stille verset
- Caitlin Barkhuizen
- Mar 31, 2017
- 2 min read
Die matrieks van 2017 het bewys dat tradisies hul baie na aan die hart lê toe hulle stilweg “betoog” het teen die verontagsaming van hierdie gesogte tradisies.

Nadat 15 graad 8-leerders hul merk op die matriektrappe gemaak het, het die matrikulante besluit dat genoeg, genoeg is.
Op die oggend van 20 Januarie het die matrieks hul 'bashers' en pette – nog ‘n Helpmekaar-tradisie – op die matriektrappe gaan plaas en dapper langs die graad 8’s op die aantreeblad gaan staan.
Die hoof, Mnr König sê: “Alhoewel dit nie korrek gekommunikeer was nie, het die matrikulante dit uitstekend hanteer.” Mnr Colin Gainsford, die matrieks se graadvoog, stem saam met hierdie stelling en glo dat dit tyd was vir die graad 8’s om hul plek in die Helpie-hiërargie te leer ken. Hierdie graad 8-leerders het sommer daardie dag al hulle merke van die trappe begin afwas.
Die matrieks het nou wel net standpunt ingeneem oor die matriektrappe, maar het deur hulle optrede verseker dat die Helpie-tradisies nie vinnig weer uitgedaag sal word nie. Verskeie matrikulante sê dat hulle bloot opgestaan het vir dit wat belangrik is. “Om tradisies te respekteer is ‘n manier om respek te toon. Of jy nou opstaan vir die hoof as hy in jou klas instap of die matriektrappe vermy”, sê ‘n besorgde matrikulant.
Graad agts sê dat alhoewel die matrieks se optrede intimiderend was, hulle bly is dat die matrieks dit gedoen het en verstaan hulle noú die belangrikheid van hierdie tradisies.
Deur hierdie klassieke stille verset het die matrieks bewys dat die tradisies van die Helpie-volk na aan hulle harte lê.
Tradisies is die een ding wat groepe uniek maak. So, graad 8’s, as julle deel wil wees van ‘n unieke groep wanneer julle in graad 12 is, byt vas en doen wat reg is. Die matriektrappe is ‘n nee-nee.
Comentarios