top of page

Pravin kanaliseer tersiêre stortvloed

  • Rynhard de Bruyn
  • Mar 31, 2017
  • 2 min read

Verlede jaar was die wyse waarop studenteproteste die hele land se tersiëre opleiding vertraag en frustreer het, een van die mees aktuele kwessies in Suid-Afrika. Daar was ‘n aandrang op gratis universiteitsopleiding vir alle Suid-Afrikaners, en daar is destruktief en gewelddadig opgetree om hierdie verandering teweeg te bring. Minister Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, het uitgewys dat die protesteerders, wat nie uitsluitlik universiteitstudente was nie, duistere motiewe kon hê en dus glad nie vir geregtigheid geveg het nie.

Die gevolge was vir die meerderheid van die universiteite in die land rampspoedig, met UCT en Wits wat die meeste hieronder gely het. UCT se eindeksamens is grootliks na 2017 geskuif, wat beteken dat die akademiese jaar eers in Maart begin. Dit het nie net skade aan die universiteit se reputasie berokken nie, maar ook ‘n wesenlike logistiese uitdaging aan alle fakulteite gebied.

Suid-Afrikaanse universiteite het gevolglik ook op die 2016 wêreldranglys van universiteite genaamd die Quacquarelli Symonds (QS) (http://www.qs.com/qs-world-university-rankings.html) ‘n hele paar plekke ingeboet: die Universiteit van Kaapstad het na die onluste met 20 plekke tot posisie 191 geval en Wits met 28 plekke tot posisie 359.

Die onluste by Wits het veral die sportiewe Helpies geraak aangesien geen sportoefening by Wits se sportvelde kon voortgaan nie. Helpmekaar was in die oog van die onlustestorm aangesien ons omring word deur Wits se gronde, en addisionele veiligheidsmaatreëls was tydens die onluste ingestel.

Met Suid-Afrika se onlangse begrotingstekort is dit hoegenaamd nie realisties om gratis universiteitsopleiding aan die hele land te bied nie, en argumente teen verdere nasionalisering van universiteite in terme van volgehoue bekwaamheid en kwaliteit het die regering verhoed om geheel en al aan die vereistes van die studente te voldoen. Die onus het op Minister Pravin Gordhan, vormalige minister van Finansies, gerus om die skade vir Suid-Afrika te minimaliseer.

Sy verantwoordelikhede het ingesluit om Suid-Afrika van kredietafgraduering te red en om verdere onluste af te weer, en sy besluit om ‘n addisionele bedrag van ongeveer R5 miljard aan Hoër Onderwys toe te ken, het tegelyk die regering gepreserveer en die protesteerders tydelik bevredig. Die verantwoordelikheid van die staat om hul fondse meer doeltreffend aan te wend was nog nooit so krities nie; daar gaan nie vir ewig ‘n Pravin wees om Suid-Afrika te red nie.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page