Aleida gesels met... Francois van Coke
- Aleida de Bruyn
- Mar 31, 2017
- 2 min read
Wie is nie ‘n aanhanger van die eertydse voorsanger van F*kofpolisiekar en die Van Coke Kartel en deesdae solo-kunstenaar Francois van Coke nie? Helpies leer eerder Francois van Coke se lirieke as skoolwerk en Helpie-musikante beskou hom as 'n rolmodel en inspirasie.
Sy lirieke “geen pretensie, geen beheer” is volksbesit en het Afrikaanse musiek weer op tieners se radar geplaas.

Hy het aan die Hoërskool Bellville in Kaapstad gematrikuleer. Francois sê dat hy ‘n “all rounder” was op skool: “My rugbyspelervriende het gedink ek is 'n punk en my “skater-chommies” het gedink ek is 'n “jock”. Ek was ook op die leerlingraad, so ek het oral ingepas, maar nêrens heeltemal nie.” Hy was baie ernstig oor rugby en het baie daarop gefokus deur sy skoolloopbaan. Volgens hom het hy “redelik goed gedoen akademies”.
Musiek het eers van graad 10 sy passie geword en hy wou net in ’n “band” speel. Sy instrumente is kitaar en “bass”. Hy skryf saam met sy “band” sy liedjies, maar skryf al sy lirieke self. Noudat Bob Dylan die Nobelprys vir Letterkunde (2016) vir sy lirieke gewen het, weet ons dat musiek-lirieke dieselfde artistieke waarde as gedigte of romans besit. Luister hoe mooi is die lirieke in “Toe vind ek jou”: “Jy’s my toevlug, wil jou nooit laat huil nie, jy’s my lied, jy’s my wysie”.
Op 8 April 2015 is sy debuutalbum “Francois van Coke” met die ballade “Toe vind ek jou” saam met Karen Zoid vrygestel. Hy breek alle rekords: dit is die eerste Suid-Afrikaanse en Afrikaanse enkelsnit en album wat gelyk nommer 1 op Itunes se Top 40-treffersparade was. Die musiekvideo is binne 6 maande oor ‘n miljoen keer op YouTube gekyk. Die album kry 5 Ghoema-toekennings én dit word aangewys as Apple en Itunes se Beste Afrikaanse album van 2015.
Sy tweede en nuutste solo-album, "Hierdie is die Lewe", is op 2 Februarie 2017 vrygestel en het vir 'n week die nommer een posisie op Itunes beklee. Hy werk saam met onder andere Jedd Kossew, Karen Zoid, Hunter Kennedy en Arno Carstens op dié album, en hy en sy “band”, Die Gevaar, het saam aan die liedjies geskryf en geskaaf.
Op ’n vraag wat die vreemdste versoek van ’n bewonderaar was, antwoord hy dat iemand hom matriekafskeid toe gevra het terwyl hy al klaar oor die dertig jaar oud was.
Om ‘n Francois van Coke konsert by te woon behoort op almal se doenlysie te wees. Sy energievlakke tydens die vertonings is ongelooflik. ’n Mens moet tog seker fiks wees en gesond leef om dit te kan volhou, of hoe? Francois meen dat hy redelik fiks is, al lyk dit nie so nie: “Ek draf so 3 - 4 keer 'n week. Ek eet nie baie gesond nie, maar ek probeer by tye. Vir my is die “visual” deel van 'n show altyd belangrik, so ek probeer altyd iets nuut na die show toe bring.”
Commentaires