Koskapperjolle in 4delaan, Parkhurst
- Nina Mostert
- Mar 31, 2017
- 1 min read

Craft, in die hartjie van Parkhurst, is waar ’n Bacon Wrapped Hotdog – een van die restaurant se spesialiteite – enige boereworsrol sal laat skaam kry. Dié worsbroodjie is ’n ciabatta met ’n Bratwurst-worsie toegedraai in spek en kaas soos ’n Helpie met sy serp in die winter, en net so knuslekker. Ek gee die broodjie ’n 7/10.

Craft se Freak Shakes is ’n wenner. ‘n Beker melkskommel, getooi in spookasem, wat jou suikerstuipe gee maar ook jou tone laat omkrul van lekkerkry. Spesiale strooitjies word benodig om díe konkoksie op te slurp. Ek sou wel nie díe 10/10 skommel aanbeveel vir enige Banters nie, maar as jou dieet kan wag tot Maandag, vergeet van slaai en maak ʼn draai.
Hudsons is landswyd bekend vir hul supergrootte hamburgers en word nie verniet beskou as die frikkadelrolletjie-paradys nie. Die Tribecca Sliders is drie eksie-perfeksie miniatuurburgers op een bord waarvan die geure en smake oorweldigend is; ‘n definitiewe 9/10! Hudsons se skyfie-bonanza – Disco Fries oftewel, soetpatatskyfies – maak elke koolhidraat die moeite werd!

4th Avenue Coffee Roasters is ʼn klein restaurantjie wat gereeld onderskat word. Bo en behalwe hulle spesialiteit, koffie, is hulle Italiaanse roomys my gunsteling. Vir ontbyt, of enige ander tyd van die dag, beveel ek die avokadopeerroosterbroodjie aan.
WEN! - “Like” KOSKAPPERJOLLE se Facebookblad en wen liplekker-pryse. Plaas jou eie koskapperjol-foto en wen!
E-pos jou gunsteling melkskommelresep na nina.mostert.helpies@gmail.com en wen!
Pryse: 10 x “Freak shakes” * 2Kg Coffee Roasters koffiebone * R300 Hudsons geskenkbewys.
Comments