top of page

Huishoudelike Valuta: Hoe kan jý wen?

  • Rynahrd de Bruyn
  • Mar 31, 2017
  • 2 min read

Meeste Helpies is bewus van wat in die wêreldekonomie gebeur en presies hoe Suid-Afrika teoreties daardeur geaffekteer word. Met ander woorde, meeste van ons kan volpunte vir die algemene kennisafdelings in Ekonomie en Besigheidstudies kry. Hierdie vlaag van geleerdheid kan op geen manier negatief wees nie, maar aan elke vakgebied is daar ‘n teoretiese sowel as praktiese afdeling verbonde. Met ander woorde: wat beteken dit vir my?

Eerstens, inflasie. Met die vermindering in die koers na ongeveer 6,6% per jaar, moet daar deur elke skoolkind in ag geneem word dat alles in die wêreld duurder word. Nee, dis nie ‘n rede om met jou ouers te simpatiseer nie, ons is almal ook aan die prysverhogings onderhewig. Alhoewel daar nie ‘n artikel in die Grondwet vir huishoudelike sakgeldgeskille is nie, kan jy jou ouers met jou kennis en vernuf beïndruk.

Die berekeninge is waarskynlik die mees kritiese aspek van die hele onderhandelingsproses. As jy in 2016 R100 se totale sakgeld per maand ontvang het, kan jy met die nuwe inflasiekoers ‘n voorstel aan jou ouers bied om aan jou R106,60 te gee, of om die getal sommer rond en gerieflik R110 te maak. Maak dit spesifiek duidelik dat jou hoofdoel die gerief en optimale bevoordeling van alle betrokke partye is.

Dan kan daar ook na wisselkoerse as strategiese middel gekyk word. Om met jou ouers te simpatiseer kan geklassifiseer word as een van die mees effektiewe diplomatiese metodes denkbaar. Vra vir jou ouers of jy spesifiek plaaslik mag koop en minder kan invoer omdat jy weet hoe intens Suid-Afrika se ekonomiese struwelinge hulle kan affekteer. Omdat jy plaaslike industrieë stimuleer, behoort jy ook in aanmerking te kom vir verdere verhogings.

Uiteindelik moet die land se geldvoorraad ook verken word. Die Reserwebank kan na verwagting die hoeveelheid geld wat in die ekonomie is, hierdie jaar verhoog. Dit beteken mos vanselfsprekend dat jou ouers self meer geld tot hulle beskikking het, en dat hulle inkomsteverdeling in die huishouding regverdig moet aanpas.

As jy boeties en sussies het, gebruik hulle as pionne om die persepsie van jou in die huishouding verder te verbeter. Hou jou punte die hoogste in die huis, politoer jou skoene weekliks en jy mag dalk die Gesinslid van die Maand wees.

Geniet die tyd wat jy op skool is; jou regte strek van gratis onderwys tot mediese byvoordele. Onthou net die volgende: As jy nie daarvoor vra nie, gaan jou sakgeld se koopkrag elke jaar daal soos wat jou verantwoordelikhede net styg. Aan alle ouers, wees gewaarsku: ons speel lankal nie meer net in die tuin nie.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page