top of page

Helpies dans in Afrikaans

  • Melissa Fourie
  • Mar 31, 2017
  • 2 min read

Niks lekkerder as 'n mooi rok, 'n mooi aand en jou beste vriendinne nie. Foto geneem deur Lauren Haasbroek.

Op Saterdag 11 Februarie het sowat 250 Helpies die jaarlikse spoggeleentheid op Helpmekaar se sosiale kalender, die Valentynsbal, bygewoon. Leerders het by die skool se hekke ingestroom en die 1920’s temawêreld, “The Great Gatsby”, betree. Die bal het ‘n week van animasie, die wilde weste en ‘hoe rooier hoe mooier’ afgesluit, maar vir diegene wat dié geleentheid misgeloop het, bly die Valentynsbal en wat daar gebeur het, ‘n donker geheim.

“Die lekkerste ding van Valbal is die regmaak en die foto’s neem saam met jou vriendinne en om dan soos ‘n prinses te voel vir die res van die aand,” so beskryf Minke Swart (graad 12) die Valbal.

Heike Edeling (graad 11) het die volgende te sê oor die Valbal: “Nie net lyk die Helpies vuurwarm nie, maar ook is daar die hittige forumsaal waar elke Helpie jaarliks die geleentheid kry om met sy of haar vuurwarm sokkietalent te spog.”

In ‘n steekproef-opname waartydens 100 leerders gevra is wat hulle gunsteling dans by dié geleentheid was, is daar interessante statistiek bymekaar gemaak.

Daar is gevind dat 12% die stadige, lyf-teen-lyf vasdans verkies het; 27% meer van ‘groepiedans’ (in ‘n sirkel dans) gehou het; 7% eerder massadanse soos die Makarena of die Cha Cha Slide geniet het; en ‘n allemintige 54% het die sokkie as hulle gunsteling dans gekies.

Valbal-tyd is tyd vir mooi-lyk en pret-hê. Foto verskaf deur Minke Swart.

Dié Afrikaanse dans se gewildheid oorskry verreweg die ander danse en volgens Minke Swart is daar geen dans so lekker soos sokkie op Afrikaanse treffers nie. Sy sê: “Sokkie is net lekker as die ou ook kan dans. Sokkie is om jou wortels te herontdek en trots te wees op jou Afrikaanse kultuur op ‘n heerlike manier.”

Die Valentynsbal is ‘n hoogtepunt wat die leerders hulle skoene laat uitskop, die dansbaan betree en in Afrikaans laat dans.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page