top of page

Gaan vir Goud by Goue liga

  • Carmine van der Westhuizen
  • Mar 31, 2017
  • 2 min read

Francois Scholtz tydens die verspring vir seuns o.17. Foto geneem deur Lauren Haasbroek.

Helpmekaar Kollege het op 17 Februarie die tiende Goue Liga atletiekbyeenkoms te UJ atletiekstadion aangebied. Hierdie byeenkoms is jaarliks ‘n prestige byeenkoms waar 8 top atletiekskole teen mekaar kragte meet.

Pretoria-Noord, Garsfontein, Eldoraigne, Centurion, Menlopark, Oos-Moot, E.G Jansen en Helpmekaar Kollege stuur jaarliks hul twee sterkste atlete per item om deel te neem en om die eerste plek mee te ding.

Die atletiek was van uitstaande gehalte en uitsonderlike prestasies was aan die orde van die dag. Diego Cupido het 1200 punte op die ABSA-tabel behaal vir sy afstand van 6.32m, seuns o.14 verspring. Hierdie is die maksimum punte wat op die ABSA-tabel behaal kan word!

Sy naaswenner, Jayden de Beer, het net so goed gevaar en 1003 punte op die ABSA-tabel verower vir sy afstand van 5.71 meter. Simone de Wet, Jonathan de Lacey Lacey en Cameron Jordaan het al drie meer as 1000 punte op die ABSA-tabel behaal.

Die Helpies was egter nie net witwarm op die atletiekbaan nie, maar ook op die pawiljoen.

Marco Claassens en Juan van Staden tydens die seuns o.17 800m. Foto geneem deur Lauren Haasbroek.

Xanté de Klerk (400m-atleet) vertel: “Die lekkerste vir my is as ek opwarm aan die anderkant van die baan en ek kan die skool hoor sing. Dit klink asof hulle reg voor my staan. Dit gee my hoendervleis.” Helpies is ’n eenheid op die baan en van die baan af. Alexander Brink (Graad 8) sê dat dit vir hom ‘n hoogtepunt was om vir sy skool te kon skree tydens die 400m wedlope.

Die atlete geniet en waardeer die ondersteuning terwyl die skoolkinders op die pawiljoen dit geniet om hulle te ondersteun. Josh Stockigt (800m-atleet) noem die Goue Liga atletiekbyeenkoms ‘n “family gathering”. Atletiekkaptein van 2017, Velmein Hendriks sluit hierby aan en sê: “Die Goue Liga byeenkoms blink uit bo die ander byeenkomste omdat die skool daar is om ons te ondersteun.”

Hierdie byeenkoms is ook ‘n oefenlopie voor die Interhoër. Dit was Helpie-atlete se laaste geleentheid om ‘n plek in die interhoërspan los te hardloop. Hoewel die aflosse geblyk het om Helpies se achilleshiel te wees, vertel Xanté de Klerk dat dit vir haar ‘n hoogtepunt was toe die Helpies nog steeds al die spanne luidkeels aangemoedig het, ongeag hulle voor of gediskwalifiseer was.

Bernice Viljoen tydens die o.15 dogters 400 m-hekkies. Foto geneem deur Gustav Klingbiel.

Die Golden Boys het daarin geslaag om die byeenkoms onvergeetlik te maak terwyl hulle die skare vermaak het met hulle entoesiastiese danspassies, humor en 'looks'. Golden Boy, Francois Breytenbach vertel: “’n Goue Liga-optrede is jaarliks ‘n hoogtepunt en ons 2017 boys wou die skool iets gee om te onthou virewig”. Eduan Beukman stem saam: “Dit was een van die lekkerste gevoelens wat ek in my hele hoërskoolloopbaan gehad het.”

Hierdie uitmuntende byeenkoms word nie verniet die Goue Liga genoem nie. Die Helpie-atlete het gegaan vir goud. Die gees op die pawiljoen was goud werd omdat die Helpies mekaar ondersteun het en die Golden Boys het gesorg vir goue vermaaklikheid.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page