top of page

Jozi se bes bewaarde ‘rooi geheim’

  • Marco van Staden
  • Mar 31, 2017
  • 2 min read

Die bus met die Johannesburgse wolkekrabbers in die agtergrond. Foto geneem deur Marco van Staden.

Helpies hou van nuwe avonture – veral in ons geliefde Jozi – én ons is gek daaroor om bus te ry. Die “Hop-on-Hop-off”-busse ontgin die Goudstad se verskuilde juwele. Hierdie rooi busse wat elke halfuur van TheZone@Rosebank af vertrek, gee aan besoekers sowel as inwoners van Gauteng ‘n kans om die groter Johannesburg van nader te aanskou.

Daar is drie roetes: ‘n rooi roete wat die middestad verken en ‘n verlengde pienk roete wat koers inslaan Soweto toe. Die groen roete is ‘n nuwe toevoeging en verken die groen voorstede van Jozi hier op ons voorstoep. Daar is interessante brokkies inligting wat deur middel van oorfone oorgedra word en dit is beskikbaar in 16 verskillende tale. Die rooi- en groen roete kos R190 per volwassene en R90 vir persone onder 17. Die kaartjies kan ook aanlyn by https://www.citysightseeing.co.za/johannesburg gekoop word.

Elke passasier word hartlik deur ‘n vriendelike busdrywer verwelkom. Sorg dat jy vinnig verby die oorsese besoekers, wat van alles foto’s neem, hardloop, en kry die beste sitplek heel voor op die boonste dek. Die eerste stop is Dieretuinmeer en hier kan die passasiers afklim en ‘n piekniek op die grasperke van die park geniet. Die park is vol arbeiders wat luilekker rondlê in hul middagete-ruskans wat die Spaanse besoekers na hul siëstas laat verlang.

Die volgende stop op hierdie roete is die Johannesburg-dieretuin. Dit lok groot belangstelling by veral die oorsese toeriste, want dit huisves ‘n eg Suid-Afrikaanse aanloklikheid, naamlik die Groot Vyf. Daarna volg die Ditsong Nasionale Millitêre-museum. Hierdie is ‘n noodsaaklike stop vir elke Suid-Afrikaanse burger. Dit belig die bydrae van die Reënboognasie tydens verskeie geskiedkundige wêreldgebeurtenisse.

Die laaste stop op die groenroete is Konstitusieheuwel. Dit sluit die toer op ‘n gepaste wyse af. Dit is ‘n bakermat van Suid-Afrika se ontwikkeling in die laaste drie dekades. Dit was voorheen die eerste maksimum-sekuriteit-tronk in Suid-Afrika en dit is nou die tuiste van die Konstitusionele hof.

Die “Hop-on-Hop-off”-bustoere herinner ons hoe prentjiemooi en boomryk Johannesburg eintlik is.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page