Vra die manne
- Marco van Staden
- Apr 2, 2017
- 2 min read
Kaatjie van die (tennis)baan

Kishoue en Helpie-tennis is sinoniem. Tennis by Helpmekaar gaan van krag tot krag en die skool spog hierdie jaar met vier provinsiale spelers wat gekies is vir die Sentraal-Gauteng-tennisspan: Isabella Venter, Jessica Portwig, Christine Gouws en Annika Gertenbach.
Robert Beckley, ‘n toptennisspeler in matriek, se raad aan jong tennisspelers is om nie te hard op hulself te wees nie. “Ek beveel ook aan dat jong tennisspelers aan SATA-toernooie deelneem om ondervinding op te doen,” voer Robert aan.
Sy raad aan afrigters is dat daar tydens elke wedstryd nuwe balle verskaf moet word om die wedstryde kompeterend te hou.
Helpies in die kol

Bestendigheid. Akkuraatheid. Natuurskoon.
Dit is drie woorde wat boogskiet opsom. Dit is ‘n sport wat veel meer vereis as ‘n pyl en boog. Dit vereis konsentrasie, ‘n liefde vir die natuur en ‘n rustige aanslag.
Die matriekskut, Henco Reiners, se raad aan jong skuts is: “Boogskiet is soos ‘n verhouding met ‘n meisie. Jy kan dit nie forseer nie, wat gebeur sal gebeur.” Die Helpies kry elke Saterdag die geleentheid om hulle vaardighede agter die boog ten toon te stel.
Henco sȇ verder dat boogskiet ‘n individuele sport is en daarom moet die afrigters die kinders spasie gee om te ontwikkel.
Beter as baansyfer

Oefen, oefen, oefen. Volgens Quenton Hanekom (graad 12) is dít die sleutel tot sukses vir enige gholfspeler. Sy raad aan die afrigter is dat meer oefening die spelers meer kompeterend sal maak teen topskole soos Eldoraigne.
Helpmekaar het entoesiastiese gholfers wat heelwat diepte in hul spel toon. Elke Vrydag pak hierdie gholfers die baan met ywer aan en lewer uitstekende resultate in die liga.
Die laaste wysheid wat hierdie topgholfer oor gholf kwytraak, is: “Gholf is die beste sport as jy goed speel, maar die slegste sport as jy die dag swak speel.”
Comments