Opstuurpunte: Jou hele hoërskoolloopbaan in een getal
- Rynhard de Bruyn
- Apr 2, 2017
- 2 min read
Omtrent so halfpad deur graad 10 begin die deursnee-Helpie by hul onderwysers van die opstuurpunt hoor. Die boonste draaipunt van uitmuntendheid in elke skolier se lewe en die punte wat jou toekoms vir altyd kan verander. Hierdie punte neem nie jou werklike vermoëns in ag nie, maar eerder hoe jy op ‘n bepaalde tyd vertoon. Met dié histeriese enigmatisering van die-getal-van-jou-lewe, begin elke graad 11-Helpie bedel vir punte met die sekerheid dat Stellenbosch hierdie punte gaan sien of dat Visekanselier Adam Habib gaan lag vir my balansstaat wat nie klop nie.
Die meerderheid van universiteite se aansoektydperke duur vanaf Maart tot Junie, en vereis met al die nodige syfers en klassifikasies jou mees onlangse, geldige hoërskoolrapport, wat beteken dat jy jou graad 11-eindrapport aan universiteite gaan stuur. Helpmekaar kan die punte (realisties) aanpas en jou skynrapport kan die heelal ingestuur word. Realisties beteken dit ‘n 78% kan ‘n 80% word, maar ‘n 45% gaan beslis nie skielik ‘n 80% word nie.
Moet asseblief nie onder die wanindruk verkeer dat jy kan lyf wegsteek en dan fenomenale opstuurpunte kan kry nie. Die opstuurrapport reflekteer presies wat jy in graad 11 bewys het wat jy werd is. ‘n Druippunt word dus nie soos ‘n wonderwerk ‘n onderskeiding nie. Dis dan ook belangrik om te onthou dat ekstra-kurrikulêre aktiwiteite en olimpiades in jou guns tel, maar dat jou punte steeds finale seggenskap sal hê.
Of jy ‘n tesis oor die Kubaanse Missielkrisis en die buitelandse valutamark kan skryf, beteken ontsaglik min as jy nie prosedures kan volg en vraesteltegnieke kan vervolmaak nie. Die regverdigheid van so ‘n sisteem is egter nie ter sprake nie, wat belangrik is, is dat jy as leerder presies weet wat van jou verwag word en wat die gevolge van jou werk is.
Onthou, liewe Helpie, dis nie jou unieke talente en integriteit wat saak maak wanneer dit by opstuurpunte kom nie. Komaan, woeker met jou akademiese talente, en neem asseblief tog graad 11 ernstig op.
Comments