Geesvang hou jou fiks
- Karla Jonker
- Apr 2, 2017
- 1 min read

Sportsterre mag dalk liggaamlik fiks wees, maar die Helpie-dirigente is uithou-fiks.
Dié jaar se fikse span bestaan uit die volgende graad 12 leerders: die vermaaklike Antoné Adlam, skitterende Emmari Sales, entoesiastiese Lejani Labuschagne, passievolle Minke Swart, vurige Chris Pietersen, fantastiese Hernus Marais, geesdriftige Lambré Krause en die luidrugtige Nico Marais.
‘n Paar van ons Helpie-dirigente het hul ervarings met die Helpie-Flitse gedeel.
“Vir my was dit ‘n gunsteling om mense op te 'cheer' en te 'entertain'. Dis altyd vir my ‘n hoendervleis-oomblik om op te kyk na al die kinders wat saam staan en sing sodat die Helpie-eggo twee kilometer ver strek”. Hierdie is die indrukke van Lejani. Dit is ook nie altyd maklik om almal gemotiveerd te hou nie, maar darem bestaan daar iets soos ysies en die woord ‘breuk’. Dit is juis om hierdie rede dat daar baie uithou-fiksheid en entoesiasme van die dirigente moet wees. Die Helpies se gunstelingliedjies, soos Rooi Ferrari en Kolletjies, word ook gereeld ingespan om die ‘Helpies-wat-nie-moeg-word-nie’ aan die gang te hou.
Nog ‘n eienskap wat ‘n goeie dirigent moet hê, is ‘n sterk stem. Hierdie stemme moet motiveer, sing, skreeu en nooit ophou geraasmaak. En dan natuurlik het almal die binne-stemmetjie wat deurentyd self positief moet bly.
Spanwerk is van kardinale belang. So moes hierdie groep dít ook aanleer. Minke vertel: “Omdat ons almal meestal ekstroverte is, bots ons partykeer. Maar op die einde sou ek nie vir beter kon vra nie! Ons werk baie goed saam.”
Comments