top of page

HOOFBERIG: Die Groot Trek van staatskole na privaatskole

  • Rynhard de Bruyn
  • Mar 25, 2017
  • 3 min read

Helpmekaar bars uit sy nate en vleuels word links en regs, oos en wes, aangebou. Waarom die toestroming? Wat sit agter hierdie groot trek van staatskole na privaatskole?

Volgens ‘n artikel getitel “Private vs Public Schools in SA: not a simple numbers game” deur Prof Ruksana Osman van Wits, is daar 4 veranderlikes noodsaaklik vir uitmuntende skoolopvoeding: prioritisering van onderrig en leer; ‘n goeie vennootskap tussen huis, skool en gemeenskap; uitstekende skoolleierskap en- bestuur en onderwysers wat voordurend self leer en groei.

Die vraag is of nét privaatskole in Suid-Afrika hieraan voldoen? En is diegene wat nie aan privaatskole studeer nie gedoem tot ‘n minderwaardige skoolopvoeding? Onder die land se beste skole is nie nét privaatskole nie, maar ook ‘n hele aantal staatskole as ‘n mens die sukses van ‘n skool meet aan die aantal leerders wat universiteitstoelating kry.

Daar is 30 000 regeringsbefondste laer- en hoërskole in Suid-Afrika. Omtrent 80% van hierdie skole onderpresteer. Na 23 jaar van demokrasie is daar net 20% van staatskole wat op min of meer op gelyke voet met IEB-privaatskole kan meeding. Dit is steeds die skole in die middel-en hoërinkomste groepe. In 2015 het 667 925 matrikulante die NSS (Nasionale Senior Sertifikaat) eksamen geskryf met 455 825 leerders wat slaag, ‘n slaagsyfer van 70.8%. Slegs 111 staatskole het vir 5 jaar agtereenvolgens ‘n 100%-matriekslaagsyfer behaal.

Hierteenoor het 10 212 leerders van 200 privaatskole in 2015 die IEB-eksamen afgelê waarvan 98.3% slaag. In 2016 het 11 022 kandidate die IEB-eksamen geskryf met ‘n nog hoër slaagsyfer van 98.67%. Statistiek is een ding, maar die harde werklikheid is ‘n perd van ‘n ander kleur. Waarvoor betaal ‘n ouer as hy kies en dit kan bekostig om sy kind op 13-jarige ouderdom, of selfs nog vroeër, na ‘n privaatskool te stuur? Hy betaal vir kleiner klasse en beter fasiliteite. Hy betaal vir die geskiedenis en prestige van die skool en vir ‘n IEB matrieksertifikaat. ‘n IEB matrieksertifikaat fokus op die “hoe” eerder as die “wat” en die oogmerk is om ‘n goed afgeronde, krities denkende 18-jarige die wêreld in te stuur.

Die Groot Trek het beslis van staatskole na privaatskole begin. En, soos reeds genoem, praat ons van die Trek onder die handjievol in die land wat dit wel kan bekostig. Die meerderheid oorvol staatskole is steeds in gebiede waar die laer inkomstegroepe woon wat nie oor die fondse beskik om ‘n privaatskool by te woon nie.

Helpmekaar groei elke jaar met rasse skrede, en die waglys vir graad 7’s wat hierheen wil kom, groei jaarliks. Daar is vanjaar 1013 Helpies teenoor 194 in 2002. Mnr. Klaus König, Helpie-hoof, sê dat die bestuur van die skool jaarliks besluit hoeveel graad 8’s ingeneem word. As voornemende Helpies gekeur word, word ‘n wye demografie en diverse samestelling van leerders voorop gestel. Vanjaar was daar by die drie graad 7 Info-aande in Maart 70% tot 80% meer voornemende Helpies as ooit voorheen.

Die beste staatskole se jaarlikse skoolfonds is tussen R 30 000 en R 40 000. Helpmekaar se jaarlikse skoolfonds is R 71 170. Skole wat aan al vier veranderlikes voldoen, sal ouers oor 5 jaar ‘n aansienlike bedrag uit die sak jaag. Natuurlik sal kinders wat aan ‘n privaat- of uitmuntende staatskool matrikuleer goed toegerus vir die lewe wees, maar ‘n opheffing van die onderrig by alle skole in Suid-Afrika kan die land se BBP ‘n baie noodsaaklike hupstoot gee. Goeie skoolopvoeding kan ook die ongelykheid wat steeds soos ‘n juk aan ons skouers hang in Suid-Afrika help omdraai en produktiewe, krities-denkende landsburgers oplewer.

Privaatskool of topstaatskool; die oogmerk bly dieselfde: die skep van afgeronde, verantwoordelike en produktiewe jong volwassenes wat in die lewe kan funksioneer en ‘n bydrae kan lewer.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page