top of page

Chicken Coop d’État

  • Rynhard de Bruyn
  • Mar 23, 2017
  • 2 min read

Aan die begin was daar Niks. Sintese, mitose en simbiose het op geen vlak plaasgevind nie. Of jy nou ‘n Bybel oopslaan of ‘n sakrekenaar uitruk, die natuur het ontstaan en is gevestig as krioelende wonder wat ‘n volmaakte ekwilibrium met sy dikwels brutale wette handhaaf.

Aan die begin was ons kaalvoet en ontbloot. Geen ontwerpersklere het aan glimmende reëlings gehang nie, en geen spog-sportkarre het in Kyalami met die son se hittegolwe in die lug geredekawel nie. Nee, ons was naak. Ons was eintlik maar deel van die kringloop; ons het van haar gawes geleef en in ruil daarvoor die grond met ons ontbindende karkasse bevrug. ‘n Verbode vrug vir ‘n long, nog ‘n skemerkelkie vir die larwes en roofvoëls.

Vandat die mens se bewustheid van sy swakheid, skaamte en komplekse psige begin opbou het, het ons op verskillende wyses begin innoveer. Ons het vir ons Versace-hoewe geproduseer, saam met addisionele pelse van leer en katoen. Alles ons eie skeppinge, nie waar nie? Oscar de la Renta (seën sy siel) kan dan tog alleen vir al sy konsepte erkenning kry.

Ons spandeer al millennia deur die natuur na te aap. Nie net neem ons van haar materiale nie, ons implementeer ‘n wet wat deur haar geskep is: “Survival of the fittest”. Met die menslike wanbalans is dit egter nie meer van toepassing nie, want die fikser drawwer (ons) is afhanklik van die agteros (mamma Gaia) om te kan funksioneer en ons verhewenheid te kan uitleef. Hoe meer ons op haar teer, hoe meer vergiftig ons haar met die anorganiese karkasse van kommersialisme.

Hierdeur sê ek glad nie dat ons almal summier moet ophou vleis eet en net vegan-geregte moet voorberei nie, ek glo bloot dat ons van ons grootste tronkwag ontslae moet raak: ego. Sodra ons besef dat ‘n vliegtuig ‘n metaalvoël is en ‘n mes en vurk ‘n skynbare vestiging van verfyndheid wat ons vetbesmeerde, stomp vingertjies vervang het, sal ons ‘n begrip van ware elegansie in die afwesigheid van egoïsme begin kry.

Aan die begin was daar niks.

Vandag is daar McDonald’s, DSTV, BVLGARI en Helpmekaar.


 
 
 

Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page