Maak ‘n verskil
- Aleida de Bruyn
- Mar 31, 2017
- 2 min read
Die "Ark Animal Centre" (http://www.arkanimalcentre.co.za/) is die perfekte geleentheid vir bedrywige Helpies wat nie weekliks die Parksorguitreik kan bywoon nie, om gemeenskapsdiensure agter die blad te kry. Dié sentrum wat hawelose en ongewenste babahondjies en ander klein honde versorg, is in Lanseria langs die Leeupark geleë.

Vir R50 per besoek kan vrywilligers van 10h00 tot 14h00 help store uitpak, herstel- en bouwerk doen en natuurlik talle honde se lewens ophelder deur hulle te bad, met hulle te stap en vir hulle liefde te gee wanneer die wêreld van hulle vergeet het. Wanneer jy instap, sien jy ook dadelik dié aanhaling op die hek van die eerste hok: "Jy het nie geleef tot jy iets vir iemand gedoen het wat jou nooit sal kan terugbetaal nie."
Die ander vrywilligers skep 'n gevoel van samesyn en vele hande maak ligter werk. ‘n Mens maak nuwe vriende en daar word lekker saam gepraat en gewerk. Thandi, 'n skolier van Crawford College, wat reeds verlede jaar haar gemeenskapsdiensure voltooi het, sê: "Ek het so lief geraak vir die honde en om 'n verskil te maak in hulle lewens, dat ek nog steeds een keer 'n maand kom kuier en uithelp."

Werk verander spoedig in pret en jy kry 'n gevoel van tevredenheid wanneer jy na ure se werskaf buite die winkeltjie sit met 'n yskoue koeldrank en die verskil wat jy gemaak het, aanskou. Hierdie sentrum is nie ‘n hartseer hondehawe nie, danksy skenkings en vrywilligers kan hulle ‘n groot verskil maak in weggooihonde se lewens.
Jy loop nie net uit met 'n gemeenskapsdiensvorm met ure wat jy vir die skool kan wys nie, maar met 'n hart vol liefde. Duitse filosoof Immanuel Kant het tereg gesê: “We can judge the heart of a man by his treatment of animals.”
Besoek gerus ons video-blad en kyk na Aleida se video: www.helpieflitse.com/video. [if !supportLineBreakNewLine] [endif]
Comments